Categories: NewsPublished On: 22nd August 2011

Wat-doen-die-RPO?

By 4 min read
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is ’n onafhanklike produsente-organisasie wat streef na volhoubare en winsgewende rooivleisproduksie in Suid-Afrika.
 
Die RPO poog om die belange van die kommersiële rooivleisprodusente binne die waardeketting van die rooivleisbedryf te beskerm en te bevorder en paat namens die produsent in die totale rooivleisbedryf. As kollektiewe bedingingsorganisasie is dit die RPO se taak om die ekonomiese welvaart van sy lede te verbeter.
 
Een van die organisasie se belangrikste take is om die 40% ad valorem-invoertarief te beskerm en om ongerymdhede met vleisinvoere te monitor. Die RPO monitor ook alle wetgewing wat die rooivleisprodusent negatief kan raak en lewer namens die produsent kommentaar daarop deur die regte kanale.
 
Buiten tariefbeskerming en onderhandelings ten opsigte van wetlike raamwerke, fokus die RPO ook op internasionale handelsooreenkomste, voorligting en dieregesondheid, asook uitvoerbevordering. Dit is die RPO se taak om produsente-belange en sake by owerheids- en nie-owerheidsinstansies te stel. So ook die vestiging en bevordering van ’n positiewe beeld van die produk en die bedryf.
 
Verder is die RPO intensief betrokke by roofdierbestuur, veediefstalbekamping en- voorkoming, die bedinging en verlaging van inset- en bemarkingskoste, inligting oor produksiestelsels en markinligting.
 
Die RPO het verteenwoordiging en inspraak by onder meer die volgende invloedryke instansies:
  • Die Nasionale Landboubemarkingsraad.
  • Die Nasionale Landbounavorsingsforum.
  • Onderstepoort Biologiese Produkte.
  • Onderstepoort Veterinêre Instituut.
  • Die Nasionale Veediefstalforum.
  • Georganiseerde landbou-organisasies.
  • Agri SA Bedryfskamer.
  • Lewendehawe Produsenteorganisasie, Namibië.
  • Die Predasie Bestuursforum.
  • Telersgenootskappe.
  • Nasionale en provinsiale staatsdepartemente.
  • Opleidingsinstellings.
  • Koördinerende Komitee vir die Welsyn van Lewendehawe.
  • Die Rooivleisbedryfstrust projek- en beplanningskomitee.
 Die RPO verteenwoordig ook rooivleisprodusente se belange in die Vleisbedryfsforum, wat na die totale waardeketting van die rooivleisbedryf omsien.
 
Die RPO vorm saam met die Nasionale Opkomende Rooivleisprodusenteorganisasie (NERPO), die Federasie van Rooivleisprodusente van Suid-Afrika.
Die Federasie hanteer die kollektiewe belange van primêre kommersiële en opkomende rooivleisprodusente.
 
Al hierdie krities belangrike funksies vir die oorlewing en welvaart van primêre rooivleisprodusente en die rooivleisbedryf in geheel, word befonds uit twee afsonderlike bronne; die statutêre heffing en ’n vrywillige produsenteheffing.
 
Die statutêre heffing is binne die raamwerk van die Nasionale Landboubemarkingswet ingestel en word uitsluitlik aangewend om die volgende sake te bevorder:
  • Verbruikersekuriteit (voedselveiligheid).
  • Verbruikerskommunikasie en -opvoeding (bemarking).
  • Navorsing en -ontwikkeling.
  • Bedryfskakeling.
  • Ontwikkeling van die opkomende sektor.
  • Produksie-ontwikkeling en bedryfsprojekte.
 Die RPO is saam met ander rolspelers verantwoordelik vir die funksies van verbruikersopvoeding, produksieontwikkeling en bedryfskakeling.
 
Die RPO is ook verantwoordelik vir die bevordering van skaapvleis, in die vorm van die Skaapvleisbemarkingsforum. By dié forum word die boodskap dat rooivleis en spesifiek skaapvleis, as ’n voedselbron oor unieke voedingseienskappe beskik, deur verskeie inisiatiewe uitgedra. Die bevordering van skaapvleis wat deur die Skaapvleisbemarkingsforum gedoen word, word gerugsteun deur wetenskaplike navorsing wat op skaapvleis gedoen is.
 
Die huidige statutêre heffingstelsel, wat tot November 2013 geldig is, behels die volgende in die geval van beeste:
  • R3,87 per kop word van die verkoper verhaal en aan die koper oorbetaal by alle transaksies.
  • R6,45 per kop word by die verslagtingspunt deur die persoon wat die dier vir verslagting aanbied, betaal.
  • ’n Permit vir beesvleis-invoere kos R720 en lewendehawe agente moet 0,07% van hulle kommissie aan heffings betaal.
 In die geval van skape, geld die volgende:
  • R0,83 per kop word van die verkoper verhaal en aan die koper oorbetaal by alle transaksies.
  • R1,25 per kop word by die verslagtingspunt deur die persoon wat die dier vir verslagting aanbied, betaal.
  • ’n Permit vir skaapvleisinvoere kos R720 en lewendehawe agente moet 0,07% van hul kommissie aan heffings betaal.
 Die vrywillige heffing van die RPO word op ’n provinsiale grondslag gehef teen ’n 0,15% basis op transaksies dit is R1,50 per omset van R1 000. Die vrywillige heffing word aangewend vir RPO personeel en infrastruktuurkostes wat nie uit die statutêre heffing gefinansier mag word nie. Die vrywillige heffing maak dit moontlik om op provinsiale en nasionale vlak inspraak te hê in die proses om statutêre fondse aan te wend in die belang van die bedryf en produsent.
 
Om deel te word van die RPO, skakel gerus een van die volgende persone: Nasionale RPO
  • Hoofuitvoerende beampte: Gerhard Schutte, 012-348-1933
  • Mpumalanga: Koos Dafel, 082-493-8428, 
  • Noordwes: Wanda Potgieter, 018-632-0130, • Oos-Kaap: Adele Rhode, 041-365-5030,
  • Noord-Kaap:Corine van Rensburg, 053-832-9595, • Wes-Kaap: Helena van Eeden, 021-860-3800, 
  • Kwazulu-Natal: Danneman Smit, 034-341-1270, • Vrystaat: Carine Annandale, 051-451-2314, 
  • Limpopo: Wilma Prinsloo, 015-297-3749, 
  • Gauteng: Willie Clack, 082-574-2653.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment