Vuil water toets die regsproses
“Waterbesoedeling is ‘n kriminele oortreding en dit moet deur die polisie ondersoek word.” Aan die woord is mnr Louis Meintjes, adjunk-president van TLU SA en ook voorsitter van die Nasionale Waterforum.
Die organisasies is erg gefrustreerd met die gebrek aan aksie van die owerhede se kant af, nadat daar reeds in Mei verlede jaar strafregtelike klagtes teen drie ministers gelê is weens hulle versuim om die land se waterbronne te beskerm.
‘n Brief is nou aan die Onafhanklike Klagtedirektoraat en die Openbare Beskermer gestuur waarin aangedring word dat die instansies moet sorg dat die polisie-ondersoek en vervolging voortgaan.
Mnr Meintjes sê: “Gebreekte beloftes, gebrekkige of geen terugvoer en oënskynlike voeteslepery om Ministers te beskerm, laat TLU SA nou geen ander uitweg as om so hard moontlik op te tree teen die SA Polisiediens nie. Dit is ‘n toets vir die regsproses.”
Die polisie het klaarblyklik in Oktober verlede jaar die dossier na die Openbare Vervolger verwys, maar sedertdien was daar geen verdere inligting gegee of optrede geneem nie. Dit is ook nie net die polisie wat geen terugvoer gee nie. Op ‘n vergadering op 10 Desember met die SAPD en die Departement van Waterwese is besluit dat die departement riglyne sal neerlê om seker te maak dat die regte instansies tot verantwoording geroep kan word.
Die doel was om dit vir die polisie makliker te maak om te besluit wie in bepaalde gevalle vervolg moet word, soos byvoorbeeld die munisipaliteit of ‘n myngroep of ‘n ander instansie. Die riglyne is nooit opgestel of deurgegee nie.
“Ondertussen gaan die waterbesoedeling in baie gevalle voort. Ons glo dat as daar ’n goeie voorbeeld gestel word deur ’n verantwoordelike persoon of persone te vervolg, en die swaarste moontlike strawwe te laat oplê, daar dalk iets sal begin gebeur,” sê mnr Meintjes.