Categories: NewsPublished On: 18th January 2012

Vreemde weer te wagte

By 2 min read

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat mense hulle gereed moet maak vir vreemde en soms uiterste weersomstandighede in Februarie, Maart en April. Ongewone wind- en reënstorms kan in verskillende dele van die land voorkom.

Boonop gaan die winter vroeër as gewoonlik sy verskyning maak.

Die enigste gebiede wat in dié drie maande moontlik heelwat minder reën gaan kry, is die sentrale en noordwestelike dele van Limpopo, die noordwestelike deel van Mpumalanga en die Suid-Kaap, het mnr Cobus Olivier, wetenskaplike en langtermynweervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), gesê.

Groot vloede kan in Februarie voorkom.

Tussen 75 mm en 150 mm reën het die afgelope twee dae in die Laeveld uitgesak en ’n vloedwaarskuwing is vir die gebied uitgereik.

’n Laagwaterbrug oor die Komatirivier naby Tenbosch (Hectorspruit) en nog een op die Driekoppies-pad by One Tree Hill naby die Jeppesreef-grenspos is oorstroom.

Die weermodelle dui voorts aan dat swaar reën tot in Junie oor die grootste deel van die land gaan uitsak, behalwe ’n strook wat van noord na suid oor Mpumalanga loop (waarskynlik die Hoëveld), die Noord- en die Suid-Kaap.

Die Natalse Middelland kan in veral Mei en Junie swaar reën verwag, terwyl reën oor die res van die land ietwat sal afneem.

Ondertussen het die Weerdiens bevestig dat Kapenaars teen Donderdag verligting kan verwag na die hittevlaag van die laaste paar dae. In Kaapstad het die temperatuur Dinsdag 32 grade Celsius bereik. Teen Donderdag sal dit terugsak tot 27 grade.

Die Weskus en Karoo ondervind ‘n hittegolf met rekord-temperature van tot 5 grade meer as wat tevore in die warmste maand, Februarie gemeet is. Aan die Weskus het die temperatuur Dinsdag tot 43 grade gestyg en by Clanwilliam is 42 grade gemeet.  

By Vredendal, Paarl, Oudtshoorn, Malmesbury, Worcester en Robertson het die kwik tussen 38 en 40 grade beweeg.

Die brandgevaarindeks bly hoog.

Bronne: WeatherSA, Beeld, SAPA.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0