Categories: NewsPublished On: 5th April 2011

Voorgestelde toltariewe is uitbuiting

By 1 min read
277 words
Waarom kos dit dubbeld soveel om ‘n pad in Suid-Afrika te bou as oorsee? Waarom moet die publiek vir hierdie duur paaie opdok? Dit is vrae wat na vore kom in die ekonoom, Mike Shüssler se navorsingsverslag oor die voorgestelde Gautengse toltariewe. 
 
Die verslag is opgestel in opdrag van Afriforum en die Padvragvereniging en aan die ministeriële komitee wat openbare insette rakende die voorgestelde toltariewe moet aanhoor, voorgelê.
 
Daarin word bevind dat die boukoste wat per kilometer aan dié tolpadprojek spandeer is, tussen 106% en 228% duurder as vergelykbare internasionale padverbeteringsprojekte is. 
 
Die verslag bevind ook dat die maandelikse inkomste van R300 miljoen wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (volgens dié organisasie se eie konserwatiewe beramings), uit Gautengse toltariewe sal ontvang, aansienlik meer is as die R193 miljoen wat maandeliks benodig word om die projek se koste van R20 miljard oor 20 jaar te finansier. 
 
Dit blyk dus dat die voorgestelde toltariewe nie net ten doel het om die projek te finansier nie, maar ook om ʼn inkomstebron te word ten koste van padverbruikers. 
 
‘n Verdere bevinding is dat die nasionale paaie in Gauteng slegs 4,5% van die totale lengte van die nasionale padnetwerk uitmaak maar dat Sanral se inkomste uit dié paie teen 2012 na raming tussen 58% en 62% sal wees. 
 
Die finansiële las wat die nuwe tolpaaie op Gautengers gaan plaas, is gelykstaande aan ʼn 2%-verhoging in persoonlike inkomstebelasting. 
 
Die verslag stel voor dat  ʼn regulerende liggaam in die lewe geroep word om toltariewe te reguleer en te voorkom dat padgebruikers uitgebuit word soos wat tans voorgestel word. 
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0