Volkswagen T-Cross 1.0TSI Highline R-Line: Prettige buks wat harte verower

Volkswagen-T-Cross Rear side Image by NetCarShow.com
Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive
Terwyl motorkopers wêreldwyd na bekostigbare kompakte sportsnutse neig wat suinig op die beursie loop, sal vervaardigers wat daarin slaag om die regte kombinasies in so ‘n voertuig te bied, nie sukkel om in die vraag daarna te voorsien nie.
Die nuwe VW T-Cross is weliswaar net die modelopvolger van die vorige VW POLO Cross, maar die nuweling se moderne voorkoms en funky stilering laat die POLO Cross vaal en oninteressant vertoon. Dit is gevolglik geen verrassing nie dat die T-Cross plaaslik reeds met goeie verkope spog.

Voorkoms en Ontwerp
In leketaal is die nuwe T-Cross die resultaat van wanneer jy ‘n POLO met ‘n kleinerige sportsnuts kruis. Die nuwe lyfie is netjies op ‘n MQB platform, soortgelyk aan die onderstel waarop die groep se POLO model gebou is, gemaak pas. VW se ontwerpers het daarin geslaag om ‘n vars moderne en hups-astrante voorkoms in ‘n nuwe bakontwerp met opvallende funky bakkleure te kombineer.
Van voor vertoon die T-Cross baie soos sy groter SUV ouboet die Tiguan, veral in die sportiewe R-Line gewaad. Die bykans hoekige ontwerp met sterk reguit kantlyne en groot lae-profiel wiele beklemtoon die familietrekke as jy die buksie van die kant betrag, terwyl die agterkant aan die T-Cross ‘n eie identiteit gee met ‘n unieke agterlig kombinasie wat oor die breedte van die agterklap strek.

Binneruim en Toerusting
Die T-Cross is wat kajuitgrootte betref soos die POLO sedan. Die kajuit sal gerieflike sitplek aan vier insittendes bied, met die kompakte laairuimte wat die maandelikse kruideniersaankope van ‘n klein gesin behoort te akkommodeer. Amptelik word die laairuimte se kapasitiet aangegee as 377 liter. Die agtersitplekke kan egter op relings skuif. Kies jy maksimun beenruimte dan skuif jy die sitplek so vêr terug as moontlik en om maksimum 377 liter laai, maar skuif jy dit maksimum vorentoe vergroot die laairuimte tot 455 liter. Uiteraard kan dit nog verder vergroot word as die agtersitplekke, wat 60:40 kan verdeel, platgeslaan word.
Binnekant is dit egter die ontwerp, ergonomie en fieterjasielose voorkoms wat myns insiens die T-Cross se sterkste argument na ‘n voornemende koper uitdra. Die kajuit straal ook ‘n ambiaans van gemak en praktiese moderniteit uit wat dit vir my aangenaam gemaak het om die T-Cross te bestuur. Ek het ook gehou van die materiaal oorgetrekte sitplekke.
Ons toetsmodel was toegerus met etlike ekstra geriefies wat opsioneel ekstra tot die standaard modelspesifikasie bestel kan word. As ek moet kies tussen al die opsionele ekstras waaronder elektriese sondak, groter infotainment stelsel, elektriese sitplekke, ens sal ek ekstra betaal vir die Park Package (R8 950) wat tru-kamera, voor en agter parkeergonsers en elektries beheerde wegvoubare kantspieëls insluit. Ook sleutellose toegang (R5 050) en dalk ook die SatNav stelsel sal op my lys van opsionele ekstras wees.
Die groot raakskerm (optionele “Active Info Display” met “ Discover Media infotainment” – stelsel) in die middel bo op die voorpaneel tref die oog en bied alle inligting met betrekking tot klank, musiek, navigasie, rit en telekommunikasie. Die stelsel werk intuïtief en is gebruikersvriendelik met groot ikone waarmee die belangrikste nutsfunksies vinnig bereik kan word. Ook die dik leeroorgetrekte sportstuurwiel met verskeie skakelaars vir sleutelfunksies dra by tot die gevoel van gehalte in die T-Cross se binneruim. Ander standaard toerusting in die T-Cross 1.0TSI Highline R-Line sluit ondermeer in klimaatbeheer vir die lugversorging, hoogte en teleskopiese verstelling vir die stuurwiel, 4 USB sokke (2 voor en 2 agter), spoedbeheer, elektriese vensters en reënsensors vir die ruitveers. Wat veiligheid betref bied die T-Cross lugsakke, ABS met EBD asook remhulp en stabiliteitsbeheer wat glybeheer insluit.

Enjin en Verrigting
Volkswagen Suid-Afrika bied tans die T-Cross aan met slegs een enjingrootte, naamlik ‘n 1.0 liter petrolturbo, maar ander enjinvariante word blykbaar vanjaar tot die modelreeks gevoeg.
Ons toetsmodel was die duurder Highline weergawe (daar is ook ‘n goedkoper Comfortline model beskikbaar) met die opsionele R-Line afwerkingpakket (R17 850 ekstra by die standaardprys). Die 1.0 liter TSI turbo petrolenjin in die Highline lewer 85kW se piekverrigting en bied 200Nm maksimum wringkrag. Krag word na die voorwiele gestuur met behulp van ‘n 7-gang dubbelkoppelaar outomatiese ratkas wat ook met ratspane agter die stuur gewissel kan word. Volkswagen se amptelike brandstofverbruik vir hierdie model word aangegee as 5,3 L/100 km, maar ek kon gedurende my tydjie met die motor slegs ‘n beste syfer van 5,9L/100 km behaal. Dalk moet ek net noem my regtervoet is gewoonlik maar aan die swaar kant.

Padgedrag en Ritdinamika
Op die pad het die T-Cross grootliks beïndruk, maar tog ook effe teleurgestel. Hantering, greep en stuurgevoel was goed grootliks te danke aan ‘n uitstekende onderstel en veerstelsel. Die 1.0 turbo-enjin het danksy die klein bak en ligte gewig nooit die idee gegee dat dit swaarkry of nie genoeg oemf tot beskikking gehad het nie. Teen lae toere in spitsverkeer kon die 200 Nm wringkrag ook sorg dat die T-Cross gemaklik versnel uit kort draaie en om sirkels. Die DSG ratkas is ‘n juweel, maar my toetsmotor het soms in trurat effe gehuiwer en dan skielik agteruit “gespring”. Dalk kan dit ook die versneller reaksie wees.
Gee jy egter vet en hardloop die toere na die rooimerk toe, veral wanneer daar op die snelweg verbygesteek moet word, dan hoor jy die enjintjie egter protesteer. Andersins was dit ‘n aangename ervaring wanneer daar rustig op die ooppad getoer word. Ritgehalte is ook normaalweg heel aangenaam. Die R-Line afwerkingspakket kom egter standaard met groot 18” allooiwiele en lae-profiel rubber. Terwyl dit sportief vertoon en aan die T-Cross ‘n aggressiewe verrigtingsbeeld bied, inhibeer dit ritgehalte as die padoppervlakte effe ongelyk raak. Erger nog wanneer daar op grondpaaie met sinkplaatgedeeltes gery word.

Gevolgtrekking
Die T-Cross 1.0T Highline R-Line soos getoets is na my mening seker die mooiste kompakte SUV in sy segment. Terwyl daar tekortkominge is in sy mondering en die opsionele ekstras myns insiens onnodig duur geprys is (soos getoets met al die opsionele ekstras ingesluit was ons toetsmodel se prys meer as R430 000), beklee die T-Cross tans die hoogste posisie op my begeerlikheidsindeks in sy segment en is juis daarom tans so gewild. ‘n Vroeë gunsteling vir die gesogte 2020 Autotrader SAGMJ Motor van die Jaar titel. Met die goedkoper model wat blykbaar vir minder as R000 in standaardgewaad gaan verkoop wanneer VWSA dit plaaslik bekendstel, gaan dit verkope verder aanjaag.
Sleutelpunte:
Enjin: 1.0-litre turbopetrol
Krag lewering: 85 kW / 200 Nm
Ratkas: 7-speed dual-clutch transmission
Brandstofverbruik: 5,3 L/100 km (claimed)
Prys en Waarborg
Die Volkswagen T-Cross Highline R-Line verkoop vanaf R382 850 wat ‘n 3-jaar/120 000 km waarborg en 3 jaar/45 000 km diensplan insluit.