Categories: NewsPublished On: 1st June 2010

Volbloed perde verkies die volbloed kruipspuit: Rotrix Rainmaker

By 3 min read
620 words

Op Joubertsdal, aan die voet van die Langeberg tussen Swellendam en Ashton, runnik groeiende troppe resiesperde van pure genot oor die oorvloedige, voedsame voer wat Hanno Joubert vir hulle uit die goeie aarde losboer – natuurlik met die betroubare en doeltreffende hulp van twee Rotrix-kruipspuite.

Hanno is ’n man wat presies weet wat hy wil hê. Hy laat hom nie met die tweede-beste tevrede stel nie. Daarom verkies hy Rotrix vir die besproeiing van sy lusern en raaigras.

Dit werk vir hom goedkoper uit, want vir die 20 hektaar wat hy daarmee besproei, sou ’n groot klomp sleeppype en arbeid nodig gewees het. Boonop het perde die gewoonte om sleeppype se spuite om te stamp sodat jy deurentyd moet oppas en regmaak.

Dis ’n groot lekkerkry dat jy jou Rotrix kan verstel om nat te maak presies soos jy dit wil hê.

Hanno se Rotrix Rainmaker-kruipspuite vat so ses tot agt uur om hulle baan van 200 meter lank en 50 meter wyd deeglik en egalig te benat. Jy hoef hom nie op te pas nie en kan met ander werk voortgaan terwyl hy sy plig nakom. Daarna het jy net twee man nodig om hom binne ’n kwartier na die volgende baan te verskuif. Naweke doen Hanno dit alleen.

Een van die Rotrix se voordele is dat jy hom enige plek kan gebruik waar daar watervoorsiening is. Hy word deur water aangedryf; nie elektrisiteit nie.

Twee spesiale uitdagings wat Hanno-hulle se wêreld aan ’n besproeiingstelsel rig, is wind en skotige hellings. Die Rotrix Rainmaker slaag albei hierdie toetse met vlieënde vaandels.

Dis net ’n baie hewige wind wat Rotrix se werking benadeel en waar wind ’n probleem is, maak ’n boer ’n plan. Hanno se plan is om sy besproeiingsbane waarlangs die Rotrix moet loop nouer te maak sodat daar meer oorvleueling is. Dit maak dan nie saak van watter kant af die wind kom nie, daar waar jou Rotrix loop, maak hy nat.

Rotrix se boereplan is natuurlik sy verskillende spuitstukke en drukverstelling. As wind ’n probleem is, gebruik Hanno ’n spuitstuk en druk wat groter druppels vorm.

En die skuinstes? Nee wat, Rotrix laat hom nie stuit nie. Hanno laat hom reguit bult-op of bult-af loop, want as hy dwars teen die skuinste loop, sal hy natuurlik die koers kwytraak soos hy homself aan sy staalkabel na die oorkant van die land inkatrol.

Die skuinste het natuurlik die voordeel dat al die water woerts-warts uit die toevoerpyp loop sodra jy hom ontkoppel, sodat hy baie makliker verskuif kan word as ’n pyp vol water is.

Rotrix werk sonder probleme, sê Hanno, maar daar is darem een dingetjie wat jou sake vergemaklik as jy dit onthou: As die masjien ’n week of so gestaan het, kan daar dalk ’n paddatjie of dingetjie in die pyp beland wat jou aandryfsproeier kan verstop. Hanno het geleer om, wanneer ’n Rotrix vir ’n ruk nie gebruik is nie, eers die kraan na die aandryfsproeier toe te draai en die watertoevoer oop te draai sodat enige vreemde voorwerpe deur die kanonspuit uitgeblaas kan word.

Rotrix werk vir jou; nie jy vir hom nie, sê Hanno. Hy verg geen onderhoud nie, maar bloot uit waardering vir sy getroue diens olie Hanno hom darem nou en dan so hier en daar.

En die dikgesmulde volbloedperde stem saam: Sit maar jou geldjies op Rotrix– jy kan net wen!

Runnik… e… praat met Jeremy Hewitt by 023-342-3438 of 082-442-1648 of e-pos jeremy@bushwakka of rotrix@intekom.co.za oor jou eie Rotrix Rainmaker. Besoek ook www.rotrixirrigator.co.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0