Categories: NewsPublished On: 21st July 2010

Vol-landbouprogram-vir-2010-Tshwane-Internasionale-Skou

By 5 min read

DieVol-landbouprogram-vir-2010-Tshwane-Internasionale-Skou/>

Hanlie Delport, Projekbestuurder van die T Skou, sê landbouhoogtepunte op vanjaar se program sluit in die Nasionale Kampioenskappe van die Pinzgauers, die Provinsiale Gymkana-Kampioenskappe en die derde kwalifiserende rondte van die Wêreldbeker Skouspring. “Ons is ook baie opgewonde oor die eerste interskole slaglamkompetisie wat vanjaar by die Skou aangebied word. Twee landbouskole naby Pretoria, Bekker by Magaliesburg en Wagpos by Brits, pak mekaar die stryd aan oor watter skool die kampioengroep slaglammers by die Skou gaan vertoon.

“Nog ‘n hoogtepunt op die landbouprogram is die Agri Expo wat in Saal H gehou word. Hierdie ekspo word deur die Gauteng Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling gereël en is die ideale geleentheid vir boere, klein SEB besighede in landbou en inset-verskaffers om hulle produkte uit te stal en om gedurende die Skou met landboukliënte binne en buite die provinsie te skakel”, sê Delport.

Die Skou se landbouprogram is soos gewoonlik in twee kategorieë ingedeel. In die eerste plek is daar die ryperdklasse se streekskampioenskappe vir Gauteng, wat gedurende die eerste week ‘n groot trekpleister vir die provinsie se perdeliefhebbers sal wees. Direk daarna begin die Internasionale Alzu Wêreldbeker Kwalifiserende Rondte vir Skouspring, wat vir opwinding gedurende die eerste naweek van die Skou sal sorg.

Die veeteeltskou, oftewel al die bees- en kleinveerasse, plus nog interessante perderasse is vanaf Vrydag, 27 Augustus volstoom op dreef saam met die kommersiële uitstallings in die sale.

Die twee jaarlikse staatmaker hoogtepunte by die Skou is eerstens die streek se karkaskompetisie in die afdeling vir slagvee as deel van die Landbank/Samic Nasionale Karkaskompetisie. Beoordeling van slagdiere op die hoef (lammers) vir hierdie kompetisie is op 27 Augustus, en vir beeste op 28 Augustus. Die karkasse word op 31 Augustus by die Cullinan abattoir aan die haak beoordeel.

Tweedens is die LNR se aanwysing van 2010 se wenner prestasiegetoetste vleisbul en toekennings aan Sterpresteerders in vleisbeesteling. Hierdie gala-geleentheid is ook op 31 Augustus.

Vleisbeeste
Altesaam 10 beesrasse neem vanjaar aan die T Skou deel, insluitend die Pinzgauers se Nasionale-Kampioenskap wat op 30 en 31 Augustus gehou word.

Die ander vleis- en dubbeldoelrasse wat aan die Skou deelneem is Brahman, Simmentaler, Braunvieh, Santa Gertrudis, Limousin, Hugenoot, Hereford en Simbra. Jerseys sal die enigste suiwelras wees.

Veertien vleisrassebulle kwalifiseer vir die 2010 Vleissentraal-Landbounavorsingsraad Prestasietoetsklas. Hierdie toekennings word vanjaar vir die 32ste keer aangebied. Ook hier is die rasverspreiding interessant. Weliswaar is al die huidige hoofstroomrasse in die bedryf nie almal deel daarvan nie, maar die merendeel (sommige selfs relatief nuut) is ernstige aanspraakmakers in die genetiese tafereel wat die onderbou van voedselsekerheid vir die land en selfs kontinent se toekoms is. Rasse wat genomineer is sluit in Afrisim, Angus, Brahman, Braunvieh, Charolais, Gelbvieh, Senepol, South Devon en Sussex.

Beoordeling van die klas vind vanaf 09:30 op 31 Augustus in Ring 1 & 2 plaas. Die wenners word later dié dag tydens ‘n gala geleentheid aangewys. Die bulle met hul prestasiedata word reeds voor die tyd vertoon en regverdig selfs ‘n langnaweek in die noordelike hoofstad.

Platinum-toekennings word jaarliks deur die LNR uitgereik. Die vereistes vir hierdie toekennings is dat ‘n bul Goue Meriete in ‘n fase C-groeitoets (C1, C2 of C3) in die vorige jaar moes verwerf het en dat sy moer Elite status vroeër in dieselfde jaar verwerf het as wat die betrokke seun Goue Meriete ontvang het.

Wenners van hierdie toekenning is nie noodwendig die beste presteerders in ‘n ras nie. Dit vul egter ‘n belangrike gaping in prestasietoetsing, naamlik die koppeling van ‘n bul se amptelike groeiprestasie met die vrugbaarheidstatus van sy moeder – ‘n belangrike aspek van diereverbetering.

Karkaskompetisie
Beoordeling van slagdiere op die hoef (lammers) vir hierdie kompetisie is op 27 Augustus, en vir beeste op 28 Augustus. Die karkasse word op 31 Augustus by die Cullinan abattoir aan die haak beoordeel.

Varke
Sowat 15 bere en tussen 15 en 20 sôe, wat saamgestel is uit Grootwit, Landras en Duroc, sal deel wees van die Skou.

Perde
Die perdeskou begin op 19 Augustus met beoordeling vanaf 08:00 – 17:00 oor ‘n tydperk van 17 dae. Twee arena’s word gebruik vir die hand-, ry- en tuigklasse. Tot dusver neem 13 rasse deel aan die verskeie kompetisies en aan die Internasionale Alzu Wêreldbeker Kwalifiserende Rondte, wat beloof om ‘n hoogtepunt op die program te wees. Vertonings van die pragtige Friesperde, Saalperde, Miniatuurperde en die Star Stallions sal sekerlik die room van hierdie rasse lok.

  • Die Suiwer Arabierperde word op 31 Augustus beoordeel in die ABSA en Oos Arena.
  • Die Alzu Wêreldbeker Kwalifiserende Rondte vir Skouspring vind vanaf 27 – 29 Augustus, in die ABSA Arena plaas. (Die kompetisie vind plaas vanaf 08:00 – 17:00 op Vrydag en Sondag, en vanaf 08:00 – 13:00 op Saterdag).
  • Die Star Stallion is werklik skouspelagtig en word op 31 Augustus vanaf 19:00 in die ABSA Arena gehou.
  • Van die land se mooiste Friesperde kan gesien word in die Friesperdvertoning wat op 24 Augustus in die ABSA Arena aangebied word. Hierdie aandvertoning is besonders en moet nie gemis word nie.
  • Die interras beoordeling van perde is op 4 September om 14:00 in die ABSA Arena.
  • Die swaar trekperd-ras, die Percheron, word op 3 September, van 08:00 – 17:00 in the Oos Arena, beoordeel.

Skape en Bokke
Die beoordeling van die SA Boerbokke en Kalahari Reds vind op 30 en 31 Augustus plaas. Die veiling vir hierdie bokke vind om 11:00 op 1 September by die Skaapkompleks plaas. Die T Skou verwelkom ook weer vanjaar die Savanna bokras, wat op 31 Augustus beoordeel word.

Sover dit skape aangaan word die Dorpers en Wit Dorpers op 2 September beoordeel en op 4 September opgeveil. Die Suffolk skape word op 3 September beoordeel en op 4 September opgeveil.

Geveerde Vriende  
Sowat 500 pluimvee sal tussen 26 Augustus en 30 Augustus geskou word, insluitend rasse soos Australorps, Bramas, Orpingtons en Leghons. Gedurende hierdie tyd sal suiwer geteelde pluimvee te koop wees. Meer as 300 sierduiwe sal tussen 31 Augustus en 4 September aan verskeie kompetisies deelneem.

Landbou-skounavrae kan gerig word aan Hester Ingamells by tel: (012) 306-0347.

Algemene Inligting  
T Skou openingstye:
Sondae:  10:00 – 18:00
Maandae – Donderdae:  10:00 – 19:00
Vrydae en Saterdae:  10:00 – 21:00

T Skou ingangsfooie:
Volwassenes (Sondae tot Donderdae):  R 45
Volwassenes (Vrydae en Saterdae):  R 55
Kinders tussen 7 en 14:  R 20
Pensioenarisse met Pensioenaris-kaart:  R 35
Kinders – 6 jaar en jonger:  Gratis
Alle besoekers op 1 September (Lente Lawwigheid!): R 20 (alle ouderdomme)
Parkering per voertuig:  R 15

Vir meer inligting besoek www.tshwaneshow.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0