Voermol-Landelek-put-die-beste-prestasie-uit-oesreste-en-weimielies
&rsVoermol-Landelek-put-die-beste-prestasie-uit-oesreste-en-weimielies/p>
Met Voermol se Landelek kan die boer nou nóg meer waarde uit die reste van gewasse soos mielies, graansorghum, sonneblom, sojabone en kleingraan put.
Oesreste-weiding het oor die algemeen ’n hoë drakrag, afhangende van die tipe gewas, graanopbrengs en die hoeveelheid ru-materiaal (reste) op die land.
Oesreste van hoë-potensiaal lande met ’n hoë produksie het noodwendig ’n hoër drakrag as dié van laer-potensiaal lande.
Die energiewaarde van pasgestroopte lande is hoog, veral waar ’n redelike hoeveelheid graan vermors is. Die hoeveelheid mielies op ’n pasgestroopte land wissel van 100 tot 300 kg per hektaar en navorsing bewys dat ’n skaap tot 800 gram mielies binne ’n halfuur kan vreet.
Maar wees versigtig: Skape wat nie op mielievoeding aangepas is nie, ontwikkel suurpens (asidose) en groot verliese kan voorkom.
’n Verdere probleem met oesreste is dat die proteïenwaarde laag is, veral vir diere met ’n hoë voedingsbehoefte soos vleisbeeskoeie met kalwers, lammerooie en jong groeiende diere.
Oesreste het dikwels tekorte aan kalsium, magnesium, sink en koper.
Goeie nuus vir die boer is dat Voermol Landelek ontwikkel is om voedingstekorte en voedingsprobleme op oesreste te beperk, sodat die boer die maksimum waarde uit sy oesreste kan put.
Landelek is ’n klaargemengde proteïene- en spoormineraalaanvulling vir skape, beeste en bokke en dit is gereed vir gebruik, sodat jy nie met ’n afmetery en mengery hoef te sukkel nie.
Voorkom suurpens
Dit bevat verskillende buffers om suurpens te voorkom, en ’n anioonsout om blaassteenvorming by hamellammers wat op mieliereste of weimielies wei, te verhoed.
Landelek het ’n medium-inhoud verbyvloeiproteïene en bevat voldoende hoeveelhede van al sewe noodsaaklike spoorelemente. Dit is melassegebaseer, wat verseker dat diere dit graag vreet en dat dit nie wegwaai nie.
Landelek word aanbeveel vir diere met ’n hoë voedingsbehoefte soos eerstekalfverse, lammerooie, speenlammers en speenkalwers.
Navorsing bewys dat goeie gehalte speenkalwers op mieliereste met ’n aanvulling van 1 kg Landelek per dag, tot 1,2 kg per dag gegroei het oor ’n weityd van 60 dae. In hierdie studie was die veebelading 2,3 kalwers per hektaar oesreste op ’n mielieland waar die graanopbrengs 3,5 ton per hektaar was.
Die aanbevole inname van Voermol Landelek vir beeste is 800 – 1 200 gram per bees per dag.
Skape op weimielies
Voermol Landelek kan ook met groot sukses vir skape op weimielies gebruik word. In proewe op Athole-proefplaas met ooie met lammers op weimielies plus Landelek, het ooie teen 232 gram per dag en lammers teen 265 gram per dag gegroei.
In praktyk groei goeie gehalte speenlammers tot 240 gram per dag.
Die drakrag van weimielies word grootliks deur graanopbrengs bepaal. Vir elke ton graan is daar ongeveer 1 000 skaapweidae per hektaar.
Om suurpens te beperk, moet skape minstens 14 dae voordat hulle in die oesreste of weimielies gejaag word, vrye toegang tot Landelek hê. Voer hulle ook vooraf elke dag mielies of mieliekoppe en vermeerder dit geleidelik oor die 14 dae só:
Dag Mielies (g/skaap/dag)
1 – 2 200
3 – 4 300
5 – 6 400
7 – 8 500
9 – 10 600
11 – 12 700
13 – 14 800
15 Jaag skape in lande
Die aanbevole inname van Landelek by skape is 150 – 200 gram per KVE per dag en groter (swaarder) skape moet tot 300 gram per dag inneem. Hierdie inname is noodsaaklik om suurpens te voorkom en bestuursmaatreëls moet verseker dat skape genoeg lek inkry.
Gee elke dag vars Landelek en plaas lekbakke naby waterkrippe wat minstens een maal per dag skoongemaak word.
Belangrik: Voermol Landelek en bogenoemde bestuursmaatreëls sal die risiko van suurpens drasties verlaag. Aangesien enkele diere in ’n trop baie min of geen lek vreet nie, is dit onmoontlik om te waarborg dat geen suurpens sal voorkom nie. Voermol Landelek bevat medikamente en moet dus nie aan perde gevoer word nie.