Voerkrale voer goeie voer
Dr Dave Hutcheson, ‘n voerkraaldeskundige van Texas, VSA het die Suid-Afrikaanse beesbedryf geluk gewens met die hoë standaard van voerkwaliteit wat in voerkrale gehandhaaf word. Dr Hutcheson het op die 2011 beesboerkonferensie van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging by Roodeplaatdam naby Pretoria gesê Suid-Afrika se beesbedryf het hom geweldig beïndruk.
Hy sê: “Voerkoste is die grootste inset om ‘n kilogram beesvleis te produseer – tussen 65% en 75% – en voerbestuur is ‘n hoofvereiste om doeltreffendheid te verhoog. Die voer moet só gemeng word dat elke bekvol voer van nutriënte en mikrobyvoegings teen geformuleerde vlakke voorsien word.”
“Vir gehalte voer moet gereelde voermonsters geneem en getoets word. Dit vereis onder andere ontledingstoetse op ‘n roetinebasis om te verseker dat die formulering van die voer ook dit is wat verwag word om deur die dier ingeneem te word,” het dr Hutcheson gesê.
“Goeie monsterneming is belangrik as ‘n verteenwoordige analise van die voer verlang word. Die beste manier is om die monsters by die krip te neem. Die mikpunt word so verseker dat elke bekvol voer dieselfde sal wees. Dus moet dit gedoen word terwyl die beeste vreet.”
Dr Hutcheson het ook gesê die produksie van beesvleis in voerkrale verminder kweekhuisgasse per kilogram vleis gelewer en laat gevolglik ‘n kleiner koolstofspoor as ekstensiewe beesvleisproduksie.
Hy het ‘n stelling beklemtoon van Bill Gates, Amerikaanse elektronikabiljoenêr, dat 70% van ‘n verhoging in voedselproduksie uit tegnologie sal moet spruit.
Dr Hutcheson het gesê toe hy Suid-Afrika die eerste keer in 1989 besoek het, het plaaslike voerkrale tussen 600 000 en 700 000 beeste gevoer en was dit op die punt van reuse uitbreiding; vandag word tussen 1,5 en 1,6 miljoen beeste gevoer.
Hy is na Suid-Afrika genooi deur Animate Animal Health, ‘n maatskappy wat daarin spesialiseer om hoë kwaliteit voerbyvoegings aan die voerkraal- en ander lewendehawe bedrywe te voorsien.