Voedselpryse-vorentoe-meer-wisselvallig-sê-VN
Voedselpryse sal waarskynlik in die komende jaar meer wisselvallig word wat die kanse sal verhoog dat meer armes in lande wat van voedsel-invoere afhanklik is gaan honger ly, het die Verenigde Nasies in ‘n verslag bekend gemaak.
Die internasionale voedeselprys-indekse het sy hoogste vlak nog in Februarie bereik wat tot die Arabiese onluste in Noord-Afrika en die Midde-Ooste bygedra het.
Pryse is sedertdien laer maar die VN-verslag het gesê dat ekonomiese onsekerheid, ‘n lae graanvoorraad, die noue verband tussen energie- en landboumarkte en die hoër risiko van slegte weer, waarskynlik meer dramatiese prysskommelings vorentoe kan veroorsaak.
"Die hoër verbruikersvraag na kos in snel groeiende ekonomieë en verdere groei in die biobrandstofbedryf plaas bykomende druk op voedselstelsels" het die Voedsel- en Landbou-organisasie, die World Food Programme en die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling in die gesamentlike verslag gesê.
Die verslag het gesê dat boere en verbruikers in klein armer invoer-lande, veral in Afrika, meer kwesbaar gaan wees sou groot tekorte onstaan.
Dit het gesê dat korttermyn-prysskommelings langtermyn-gevolge inhou.
Die verslag het bevind dat baie lande in Afrika en ander invoer-afhanklike gebiede steeds onder probleme wat deur die wêreld voedsel- en ekonomiese krisisse van 2006 tot 2008 veroorsaak is, gebuk gaan.
In 2010 het die Verenigde Nasies gesê dat die aantal honger mense vir die eerste keer in 15 jaar tot 925 miljoen gedaal het. Maar in die jongste verslag word nie ‘n syfer gegee nie aangesien die metodologie om dit te bereken tans hersien word.
Volgens die verslag sal die ontwikkeling van beter besproeiingsmetodes, grondbestuur en saad help om produksierisiko’s te verminder en die wisselvalligheid van die prys te versag.
Die verslag het tot die gevolgtrekking gekom dat voorspelbare beleid en oop markte meer doeltreffend werk om pryse stabiel te hou as beperkende beleid.
Bron: Times Live