Categories: NewsPublished On: 31st March 2011

Vloede bedreig Namibië

By 1 min read

Meer as 60 mense het reeds in die noorde van Namibië verdrink, skole en klinieke is ontoeganklik, oeste word bedreig en duisende mense moes hulle huise verlaat nadat vloedwater dié gebied die derde agtereenvolgende jaar getref het.

Die Volksblad berig dat president Hifikepunye Pohamba ’n noodtoestand afgekondig en R30 miljoen vir noodleniging beskikbaar gestel het. Mnr Pohamba het sy kommer uitgespreek oor die skade wat die water kan aanrig aan Namibië se graanopbrengs wat binnekort geoes moes word. Duisende bestaansboere se oeste is reeds onder water.

Die gebied rondom Ovamboland se grootste dorp, Oshakati, is die ergste getref. Altesaam 247 skole en minstens 22 klinieke is weens die vloedwater ontoeganklik.
 
Meer as 100 000 leerlinge kan gevolglik nie hul skole bereik nie en slegs 25 klinieke in die groter Oshakati-distrik verskaf nog mediese dienste. 
 
Die vloed word veroorsaak deur swaar reën wat sedert Januarie in die Cuvelai-bekken val. Dis ’n gebied wat van Sentraal-Angola tot by die Etosha-panne in Namibië strek.
 
Die gevolg is dat die grootste riviere aan Namibië se noordgrens met Angola en Zambië dreig om oor hul walle te stoot en groot dele van al drie lande onder water kan laat.
 
In die Zambezi-vallei in Zambië is groot skade reeds aan infrastruktuur aangerig, verskeie huise is oorstroom, oeste is vernietig en daar word gevrees dat die karkasse van versuipte vee, siektes soos cholera, kan veroorsaak.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0