Vitamech se MacDon M150: Ontmoet die hoogtepunt in platsnykuns
Woeste winde waai die Overberg se koringkorrels uit die are voordat jy jou stroper in die land kan stoot.
Dis hoekom die Overberg se boere hulle koring platsny terwyl die korrels nog stewig sit. As ’n halm lê en ryp word, kan die wind nie sy korrels uitwaai nie. Agterna, wanneer die korrels droog genoeg is, staan die boer met sy stroper en windry-opteller nader.
Met die al gewilder wordende kanola is platsny ewe belangrik, en om meer redes as windskade: Platsny verseker dat die saad eweredig ryp raak sodat jy agt tot tien dae vroeër kan oes en ’n beter gradering kan behaal.
Maar by sowel koring as kanola is dit belangrik dat jy op die regte tyd moet platsny om die beste resultate te behaal. Veral kanola is maar ’n paar dae lank reg vir platsny.
Die Wesselse van Waplaas Boerdery in die Overberg glo nie aan sukkel nie. Daarom sny hulle nou al jare lank met niks anders as MacDon van Vitamech nie – vir hulleself en as kontrakteurs vir ander boere.
Eers het hulle MacDon-sleepsnyers gebruik, maar vandag sny hulle al die Overberg plat met hulle tweede MacDon selfloop-platsnyer – ’n MacDon M150 met ’n MacDon D-60-D snytafel wat 9,1 meter wyd sny.
Die belangrikste beginsel van platsny is dat jy op die land aan’t sny moet wees wanneer jou graan gereed is – nie kruiend op pad land toe nie. Die MacDon M150 draf teen ’n flink 37 kmu op die pad, wat veral vir kontrakteurs wat soms wyd moet sny, belangrik is.
En as hy eers op die land is, is hy rats, kragtig en maklik beheerbaar om selfs teen die Overberg se bulte met min diesel groot lappe aarde baas te raak.
’n Sinvolle rekenaarstelsel vertel die operateur deurentyd hoe hy vorder, en met een hand op die stuur doen sy ander hand al die verstellings wat jy wil sommer so in die ry.
Daar is g’n gesukkel met klutse en kieries en slingers en stange nie, want die MacDon M-reeks het driespoed hidrostatiese aandrywing, wat beteken dat jy bloot sy beheerarm vorentoe stoot wanneer jy vorentoe wil ry, of agtertoe wanneer jy agtertoe wil ry. En op daardie selfde beheerarm is al die knoppies om elke taak van die platsnyer haarfyn en moeiteloos te beheer.
Sy wiele is lekker wyd uitmekaar geplant vir stabiliteit oor enige terrein, en hy loop 1 160 mm hoog, sodat hy lekker hoë, netjiese windrye kan pak sonder om dit weer met sy pens deurmekaar te krap. Dit is veral goeie nuus vir kanola, wat nogal hoog afgesny word.
Dit help niks jy sny jou koring plat om die korrels in die are te hou en dan boelie jy dit self uit met rowwe hantering nie. Die MacDon werk liefderik en sorgsaam met jou graan. Nadat hy dit sagkens en skoon afgesny het, val dit in netjiese gelid op ’n sagte seilband wat dit galant na die aflaaigat begelei.
Daarvandaan pak hy dit in spoggerige windrye, gereed vir die stroper se opteller.
Sny jy vir kuilvoer of droëlandlusern, dan voer jy jou materiaal eers deur die MacDon se knap kneuser om dit onweerstaanbaar vir jou diere te maak.
Een van die MacDon se voordele waaroor Johan Wessels baie opgewonde is, is dat jy twee bane se materiaal in een groot windry kan pak. Dit is een windry vir meer as 18 meter, wat beteken dat jou stroper agterna op volle kapasiteit kan stroop – hy hoef hom nie moeg te hardloop agter materiaal aan nie.
Hierdie groter, netjieser windrye beteken dat die boer nie net met die stroopproses geld en tyd spaar nie, maar ook met baal en uitry van voer.
Dieselfde tafel kan natuurlik ook aan jou stroper gemonteer word vir doeltreffender regstreekse stroopwerk van graan, oliesade, grassaad en eetbare bone.
Daar is drie MacDon-modelle beskikbaar: Die M150 met ’n enjin van 97 kW soos wat die Wesselse het, sy groter boet, die M200 van 158 kW en hulle kleinboet, die M100 van 74 kW.
’n Verdere groot voordeel van MacDon is dat dit in Suid-Afrika bemark en gerugsteun word deur Vitamech met sy flink span diensagente regoor die land.
Vir meer inligting oor Vitamech se voorloper-platsnyers, praat met Marius Tolmay by 083-581-5709.