Categories: NewsPublished On: 5th July 2010

Vinnig, flink, finaal: SpraCoupe stel doodstraf in vir oesverwoesters

By 3 min read
533 words

Geen genade word betoon nie. Dis summiere, onverbiddelike doodstraf vir onkruid, peste en plae in boere se gesaaides: Challenger het die uitdaging aanvaar om boere se oeste te beskerm en dit doen hy deeglik met sy doeltreffende SpraCoupe-selfloopspuit.

Een van die belangrikste vereistes vir ’n spuit is dat hy vinnig ontplooi moet kan word en vinnig moet kan werk, sê Dawie van der Merwe, wat saam met sy pa, Dirk, sy suster, Berdien, en sy swaer, Jaco Claassen, naby Wesselsbron in die Vrystaat met mielies boer.

Die boerdery se naam is Helpmyvoort en dit is presies wat Dawie se SpraCoupe 7660 doen deur onkruid en peste geheel en al uit te wis.

Dawie-hulle se grond lê redelik wyd uitmekaar, so 25 km. Maar 25 kilometer kan soos ’n ewigheid voel as jy teen ’n slakkepas moet aankruie na ’n land wat besig is om deur onkruid oorgroei of deur stronkboorders opgevreet te word.

Die SpraCoupe skakel daardie probleem uit. Hy draf lag-lag teen 40 km/h op die pad en voor die stronkboorders hulle tweede hap behoorlik gekou het, is dit verby met hulle.

Hierdie strategiese vermoë van die SpraCoupe is nog belangriker vir ’n spuitkontrakteur soos Jacobus de Wet van Hoopstad. Soms moet sy SpraCoupe-spuite 80 tot 100 km ver draf om ’n bedreiging te gaan beredder – en hulle was nog elke keer betyds om die stryd oortuigend te wen.

Dit gebeur ook soms dat Jacobus in die dag op ’n plaas ’n middel spuit wat gevoelig is vir nattigheid. Sodra die son sak en die dou begin val, verskuif hy na ’n ander plaas waar hy in die nag ’n ander middel spuit en môre is hy weer terug om op die dagspuit­plaas voort te gaan.

Met ’n spuit wat skilpadpas loop sou hierdie doeltreffendheid buite die kwessie gewees het.

En wanneer die SpraCoupe eers in die land is, raak ’n groot stuk aarde gou-gou klein. Teen so 18 tot 20 km/h spuit Dawie so 250 hektaar per dag. Dis vinnig genoeg vir hom, maar daar is mense wat nog vinniger spuit met die Spra-Coupe, sê hy.

Hierdie spuitspoed en die groot lappe aarde wat jy in ’n japtrap met jou SpraCoupe kan baasraak, is baie belangrik vir Dawie. Wind, reën, tempera­tuur en nattigheid beperk jou spuittyd en daarom moet jy vinnig en deeglik kan werk in die tydjies wat die natuur jou bied.

Die geheim van die SpraCoupe se onverbeterlike doeltreffendheid is dat hy in elke besonderheid ontwerp en gemaak is om aan die boer se werklike vereistes te voldoen:

Die SpraCoupe se kragtige Caterpillar-enjin van 130 kW word elektronies beheer om die hoogste krag- en wringkraglewering te bied sodat jy altyd oorgenoeg krag het om jou werk moeiteloos te doen.

Die enjin voldoen aan die strengste uitlaatgasstandaarde en dit beteken terselfdertyd die mees ekonomiese benutting van brandstof.

Monteer nou hierdie beste enjin met ’n sesspoed Power­shift-ratkas op ’n buigbare raam wat nie sommer sal kraak of breek nie, met onafhanklike vering en vierwiel­aandrywing en nou verstaan jy hoekom die SpraCoupe so bekwaam oor die land draf.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0