Vindingryke ingenieursvernuf: Kuilvoermaak is kinderspeletjies met Valtrac
Skittertegnologie en toegewyde diens van Valtrac maak kuilvoermaak louter plesier vir Matthias Weigelt, landboudiensteverskaffer. En dit is ’n mondvol, want jy moet jou roer om jou mielies of voersorghum in te kuil terwyl die voggehalte presies reg is, anders is daar groot probleme.
Daarom is dit noodsaaklik dat jou toerusting jou nooit as te nimmer in die steek moet laat nie. En daarom volstaan Matthias by Valtrac met hulle uitgesoekte produkte.
Net soos elke speler in ’n rugbyspan ’n spesialis in sy spesifieke posisie moet wees om gesamentlike sukses te bereik, so moet elke masjien in die kuilvoerproses sy werk perfek verrig.
En Valtrac verskaf die perfekte kombinasie van perfekte masjiene om elke keer die kuilvoerwedstryd oortuigend te wen: Van die kerwer en kragbron tot die wegrywa en vastraptrekker. Kyk net:
Die Kemper-kerwer
Matthias gebruik Kemper Champion C3000-kuilvoerkerwers met die volgende wen-eienskappe:
- Sny drie meter wyd ry-onafhanklik
- Sny besproeiingsmielies teen 4,5 tot 6 km/h en droëlandmielies teen 7 km/h
- Sny so 55 ton per uur as die oes mooi is
- Het ’n metaalverklikker wat die masjien onmiddellik stop as jy probeer droppers kerf
- Sny en gryp materiaal in enige omstandighede doeltreffend vir minimum verlies
- Snitlengte in 12 posisies verstelbaar vanaf 4,3 mm tot 33 mm
- Breek mieliepitte vir beter voergehalte
- Kettinglose aandryfstel vir lae onderhoud en hoë betroubaarheid
- Vorentoe, agtertoe en neutraal word elektries vanuit trekkerkajuit beheer
- 12 snylemme
- Slypstelsel vereis nie gereedskap nie
- Aflaaigeut word hidroulies beheer vanuit kajuit
Valtrac is ook die verspreiders van die kleiner, maar gedugte, Nogueira Pecus II-kuilvoerkerwers.
Kragtige trekkers
Matthias se kuilvoerkerwers word aangedryf deur Valtra-trekkers; ’n 89-50 van 118 kW op die wiele en 147 kW op die kragaftakker en ’n T190 van 139 kW op die wiele en 155 kW op die krafaftakker. Kuilvoermaak is net ’n derde van die dienste wat Matthias aan boere lewer en die res van die jaar gebruik hy dieselfde trekkers vir grondvoorbereiding en plantwerk.
Hierdie kombinasie is dus baie lonender as ’n selfloopkerwer wat die grootste gedeelte van die jaar ledig sou staan en rente vreet.
Die kerwer haak agter aan die trekker se driepunt en word met sy swaardiens-kragaftakker aangedryf.
Dié gevorderde hoë-tegnologietrekkers is toegerus met Valtra se unieke TwinTrac trubestuurstelsel, wat beteken dat jy bloot die sitpek omdraai en dan met ’n agterstuurwiel en -kontroles agteruit ry.
Die trekker se kragoordragstelsel is spesiaal so gemaak dat hy ewe goed vorentoe of agtertoe kan werk. Die sig is uitstekend want jy hoef nie oor ’n trekkerneus te kyk om te sien wat jy doen nie.
Die trekkers is ook toegerus met Valtra se Sigma Power, wat beteken dat die betroubare Sisu-enjin tot 22 kW meer krag beskikbaar stel vir swaardiens-kragaftakkerwerk.
Valtra-trekkers is gebruikersvriendelik, betroubaar en word presies volgens die gebruiker se behoeftes gemaak, sê Matthias. Hy het binne twee jaar agt Valtra-trekkers gekoop.
Wegrywaens
Valtrac se Jeantil-wegrywaens is self toonbeelde van ingenieursvernuf. Hulle is van die beste staal gemaak en is lig (4,4 ton) sodat die lisensie minder kos, maar dra swaar vragte van 19 ton of 25 kubieke meter.
Hulle is veelsydig en kan gebruik word vir kuilvoer, graan, gruis of om mis lande toe te ry. ’n Belangrike voordeel is dat hulle hoog genoeg wip sodat kuilvoer maklik kan uitgly.
Diens
Valtrac se diens is kundig, betroubaar en onderdele is altyd beskikbaar, sê
Matthias.
Vir meer inligting oor Valtrac en sy boervriendelike produkte, skakel (056) 817-7308 of besoek www.valtrac.co.za.