Categories: NewsPublished On: 9th July 2010

Verseker volgehoue produksie met bystandskrag

By 4 min read

Groot ontwrigting kan by ’n melkery losbars as daar nie elektrisiteit is om die koeie tydig te melk en die melk in die grootmaattenks koud te hou nie.

Vir die melkboer is onderbrekings in die elektrisiteits­toevoer ’n nagmerrie wat sy winsposisie gevoelig kan benadeel, sê mnr David Davies, ’n ervare varsmelkprodusent van die plaas, Nutcombe, naby Mooirivier in KwaZulu-Natal.

Mnr Davies ken melkboer­dery. Hy het in 1987 by sy pa se melkboerdery op Nutcombe aangesluit en bedryf die boerdery alleen sedert 1998.

Hy melk byna 500 koeie twee keer per dag, en ’n hoogs produserende koei moet op die regte tyd gemelk word om produksie en uiergesondheid te behou. Daarvoor is ononderbroke elektrisiteitstoevoer nodig.

Dis lekker om melkboer te wees, sê mnr Davies, maar die een ding wat hom al moedeloos gemaak het, is kragonderbrekings.

Die elektrisiteitstoevoer word dikwels tydens donderstorms, maar ook soms selfs sonder enige verklaarbare rede onderbreek, en so-iets is vir die melkboer beslis slegte nuus.

Sonder deurlopende beskikbaarheid van elektrisiteit kan ’n melkplaas nie produseer nie.

Elektrisiteit is nodig vir die melkmasjiene in die melkportaal, die voorverkoeling van melk en om die melk in die grootmaattenks koud te hou sodat dit nie bederf nie.

Sodra die koei gemelk is, gaan die melk na ’n plaat-voorverkoeler wat deur ’n ysbank bedien word. Dit verkoel die melk van 37 grade Celsius tot 20 grade.

Daarna gaan die melk na twee groot koeltenks wat saam 14 000 liter hou. In hierdie tenks word die melk verder verkoel sodat dit so gou as moontlik teen ’n konstante temperatuur van 4 grade Celsius gehou kan word totdat die melkverspreider dit kom haal.

As hierdie temperatuur nie gehandhaaf kan word nie, is die gehalte van die melk daarmee heen en ly die boer verlies.

Noodkrag

Vir die voorsiening van noodkrag tydens onderbrekings het mnr Davies voorheen ’n trekkeraangedrewe kragopwekker van 20 kVa gebruik. Dié stelsel kon ongelukkig nie genoeg krag opwek om al die take terselfdertyd te hanteer nie, daarom moes hy byvoorbeeld eers klaar melk voordat hy die stelsel vir verkoeling kon inspan.

Die kragopwekker het wel as ’n noodhulp gedien, maar sy beperkte vermoë was ver van ideaal.

Daarom het mnr Davies besluit om ’n groter bystands­kragopwekker aan te skaf, waarmee al die prosesse soos normaalweg bedien kon word. Beurtkrag het hierdie besluit verhaas.

Eskom help

Om ’n ingeligte besluit te kan neem, het mnr Davis mnr Keith Horlock, senior Eskom-adviseur vir energie­verbruik in die landbou, op Estcourt genader vir raad oor die plaas se totale elektrisiteitsbehoefte.

Om die boerdery se heersende elektrisiteitsverbruik te bepaal, het mnr Horlock gereël dat mnr Julius Zondi, Eskom-adviseur vir energieverbruik in Pietermaritzburg, die verbruik op die plaas kom meet.

Die meting is vir ’n tydperk van twee weke gedoen en daar is vasgestel dat die maksimum behoefte op ’n slag 46 kVa is.

As deel van die diens wat Eskom lewer, kon mnr Horlock ook inligting verskaf oor waar geskikte toerusting bekom kon word.

Prysberamings is aangevra en mnr Davies het besluit om ’n bystandskragopwekker van 80 kVa aan te skaf. Dit is heeltemal genoeg vir die plaas se heersende elektrisiteitsbehoeftes en laat ruimte toe vir toekomstige uitbreiding.

’n Viersilinder-dieselenjin met ’n brandstoftenk van 310 liter dryf die opwekker aan.

Die stelsel werk so dat dit binne 30 sekondes nadat die elektrisiteitstoevoer onderbreek is, outomaties aanskakel. Binne een minuut daarna voorsien dit elektrisiteit sodat alle normale werksaamhede op die plaas kan voortgaan.

Sodra die normale elektrisiteitstoevoer hervat, skakel die opwekker outomaties af. Die stelsel maak seker dat die elektrisiteitsvoorsiening heeltemal in orde is voordat dit afskakel.

Selfs in gevalle waar daar ’n kortstondige verlaging in stroomspanning voorkom en weer normaliseer, skop die bystandskragopwekker ’n minuut lank in voordat dit weer outomaties afskakel.

Beskerm inkomste

“Die bystandselsel wat ek gekoop het, het reeds bewys dat dit ideaal werk en beslis die geld en moeite werd is. Binne twee weke nadat dit geïnstalleer is, het die plaas reeds by twee geleenthede die gerief daarvan ervaar toe beurtkrag toegepas is. By die melkery kon produksie sonder om ’n oog te knip, normaalweg voortgaan.

“Alhoewel die elektrisiteit wat ek nou kan opwek, duurder as Eskom-krag is, is dit moeite­vry en steeds bekostigbaar. Dit verleen besondere gemoedsrus. Ek beskou dit as ’n verseke­ringspolis wat dekking teen ongerief bied en veral my melkproduksie en derhalwe my inkomste beskerm,” sê mnr Davies.

“Eskom ondersteun boere wat hulle eie bystandkragopwekkers wil aanskaf en bedien hulle graag met raad en kundigheid,” sê mnr Horlock.

“Dit is veral plase wat op lang toevoerlyne geleë is en daarom meer dikwels aan energie-onderbrekings blootgestel is, wat groot waarde uit so ’n eenheid kry.”

Navrae: Skakel 086600 37566 / 08600 Eskom (deelkoste-oproep) of besoek www.eskom.co.za.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0