Verkeerde-klimaat-oor-grond-kan-probleme-skep
“Daar is tans ‘n klimaatskepping in die land wat kan uitloop op grootskaalse konflik, en slegs die ANC-regering het die vermoë om dié potensieel gevaarlike situasie te ontlont”, het mnr Louis Meintjes, president van TLU SA gesê.
Dié waarskuwing kom nadat die ANC se Jeugliga-leier die naweek weer daarop aangedring het dat 80% van die grond in blanke besit na swartes oorgedra moet word.
“Malema sê nou dat die blankes hier aangekom het sonder grond en sonder minerale. Dieselfde is van toepassing op Malema se voorgeslagte”.
“Die ANC kan hom nie daarop beroep dat die ANC Jeugliga ’n outonome organisasie is nie. Hulle dra die ANC se naam en daarom moet die ANC volle verantwoordelikheid aanvaar vir hulle jeugbeweging se stellings” het mnr Meintjes gesê.
Hy het gesê dit is ongehoord dat die ANC-regering die beleid handhaaf van 30% van die grond wat aan swartes oorgedra moet word, maar hulle jeugliga, in stryd met regeringsbeleid, eis 80%.
“Boonop is dit totaal in stryd met die land se Grondwet wat eiendomsreg waarborg, ook vir die blankes.”
TLU SA daag President Zuma uit om net so streng en meedoënloos op te tree teenoor sy jeugleier as wat hy opgetree het teen die polisiekommissaris en ministers Sicelo Shiceka en Gwen Mahlangu-Nkabinde.
Grondeienaars behoort nou standpunt in te neem teen onverantwoordelike en irrasionele uitsprake wat tot optrede soortgelyk aan die grondgryp in Zimbabwe kan lei het mnr Meintjes gesê.
Vroeër het mnr Johannes Möller, president van Agri SA gesê dat opruiende uitsprake gerig op die onwettige besetting van grond aan die toeneem is en dit blyk asof die ANC-leierskap ‘n wag-en-sien benadering volg.