Veranderings-in-die-Omgewingswet-verwelkom
Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het in ‘n verklaring gesê dat hy die Departement van Omgewingsake se besluit om dele van die Nasionale Omgewingsbestuurswet te herskryf verwelkom.
Die veranderings bring mee dat staat- en semi-staatsinstellings wat omgewingsoortredings begaan, strafregtelik aangekla en gestraf kan word.
Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, kan die herskryf van die wet ʼn groot invloed op die natuur en die natuurlike hulpbronne in Suid Afrika hê.
“Die instellings wat voortaan tot verantwoording geroep sal kan word, is van die wat die grootste impak op ons omgewing het,” het mnr Kleynhans gesê.
Vroeër kon geen regeringsdepartement ʼn ander strafregtelik vervolg nie.
Volgens AfriForum is daar verskeie instellings wat wel die wet oortree, insluitende Eskom, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), Samancor, Sasol Secunda, Enviro-serve van Roodepoort en Coal of Africa.
“Hierdie aksie deur die Departement van Omgewingsake blyk ʼn stap in die regte rigting te wees om Suid-Afrika se stryd teen aardverwarming te bevorder,” het mnr Kleynhans gesê.
Die wet sal nou voorsiening maak dat almal – beide mense en instellings – gelyk is voor die gereg, lui die verklaring.