Categories: NewsPublished On: 31st January 2012

Veldtog teen plaasmoorde begin

By 2 min read
464 words

TLU SA het aangekondig dat hy hierdie week met ‘n aksie teen plaasmoorde begin , nadat dit duidelik geword het dat daar hierdie jaar reeds ’n toename in plaasmoorde was in vergelyking met verlede jaar.

Sedert die begin van Januarie vanjaar is ses boere reeds op hulle plase vermoor teenoor die een moord verlede Januarie.

Mnr Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê hierdie situasie is totaal onaanvaarbaar. “Ons poog nou al jarelank om die Suid-Afrikaanse regering te oortuig om aksie te neem. Tot dusver het niks wesenliks gebeur nie, en al antwoord wat ons gekry het is dat plaasmoorde nou ‘hoogstens kommerwekkend is, maar nie meer ’n prioriteit is nie.’ TLU SA kry die indruk dat die regering ’n dowe oor op ons draai en daarom het ons nou geen ander keuse nie as om van ander metodes en kanale gebruik te maak om te poog om ons landbouprodusente, wat die land se voedselvoorsieners is, te beskerm,” sê mnr Van Zyl.

Hy sê boere kan dalk nie “getel” word in terme van getalle nie omdat daar maar ongeveer 35 000 kommersiële voedselprodusente oor is. Hulle behoort eintlik geweeg te word in terme van hulle bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Mnr Van Zyl meen as die Suid-Afrikaanse verbruiker gemobiliseer kan word in steun vir die voedselprodusente, kan hierdie gewig in terme van ekonomiese meting heelwat swaarder word.

‘n Kortboodskaplyn (SMS-lyn) is in werking gestel waardeur mense ’n boodskap van steun kan gee, maar waardeur hulle ook ’n klein donasie kan maak vir die internasionale bewusmakingsveldtog en TLU SA se traumafonds, wat help om slagoffers van plaasaanvalle te ondersteun.

As deel van die internasionale bewusmakingsaksie is TLU SA se assistent-hoofbestuurder: Kommunikasie, mnr Henk van de Graaf, tans in Europa waar hy die volle dimensie van plaasmoorde onder die aandag sal bring van talle politieke partye, regeringsverteenwoordigers en ander belanghebbendes. Die hoogtepunt van sy reis is ’n besoek aan die Europese Parlement waar hy die hoofspreker sal wees op ’n openbare vergadering van Europese parlementslede oor plaasmoorde in Suid-Afrika.

“As die regering dan nie na ons, wat die kommersiële voedselvoorsieners verteenwoordig, wil luister nie, sal ons ander metodes moet gebruik om die regering te beweeg tot aksie,” sê mnr Van Zyl.

Mense wat TLU SA se aksies in hierdie verband wil ondersteun, word gevra om ‘n kortboodskap (SMS) te stuur na 48716 en die word TLUSTOP as boodskap in te tik.  Elke boodskap kos R10 en sal gebruik vir die internasionale veldtog en die traumafonds.  Mense kan ook hulle naam plaas op TLU SA se webblad as deel van ’n petisieveldtog teen plaasmoorde. Die webadres is www.tlu.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0