Categories: NewsPublished On: 21st July 2010

Veiligheid:-Boere-spring-self-in

By 5 min read

In die noorde van ons land bewys TLU SA se steunkringe dat die misdaadbedreiging tog teengestaan kan word en dat misdadigers tog aan die pen kan ry – as ons mense saamstaan in die nimmereindigende stryd teen misdaad.

Steunkringe gaan in wese oor ‘n ondersteuningsbasis van mense wat saam bly, werk, leef en wat na mekaar se belange omsien, sê Japie van der Goot van die Vivo-boerevereniging se steunkring.

Die steunkringbeginsel is deel van TLU SA se landelike beveiligingsplan. Daarvolgens organiseer mense in ‘n bepaalde omgewing hulleself in groepe met behoorlike kommunikasiestelsels en beveiligingsaksies soos gereelde patrollies in hulle gebied.

Dit is aan hierdie steunkring van Vivo te danke dat die moordenaars van mnr Pieter Snyman vasgetrek is en tans verhoor word.

Een aand in Desember 2009 het vier plaasterroriste mev Snyman en haar twee jong dogters oorval en in die badkamer vasgebind. Hulle het haar man ingewag en hom met pangas en messe vermoor.

Daarna het hulle sy liggaam na die badkamer gesleep en die res van die gesin aan hom vasgemaak. Deur die loop van die aand het die moordenaars nog nege keer teruggekom om sy liggaam verder te skend voordat hulle met sy bakkie gevlug het.

Agterna het lede van die Vivo-steungroep die huis binnegegaan om mev Snyman en die dogters vry te laat toe polisie op die toneel nie kans gesien het om dit te doen nie.

Dieselfde aand het steungroeplede ‘n uur-en-‘n-half lank vir die polisie op Pietersburg inligting deurgegee oor die presiese bewegings van mnr Snyman se voertuig, wat met ‘n satellietopsporingstoestel toegerus was. Die voertuig het in en om Pietersburg rondbeweeg.

Uiteindelik het die steungroeplede besef dat die polisie, ondanks al hulle versekerings, nooit iemand uitgestuur het om die voertuig te onderskep nie. Die polisie het hulle die hele tyd belieg.

‘n Polisie-eenheid het later op die verlate voertuig afgekom. Weer was dit die plaaswag wat aan die eenheid die inligting verstrek het dat die voertuig waarskynlik ‘n moordenaar se vingerafdrukke in het en dat die saak nie bloot as een van voertuigdiefstal hanteer moet word nie.

Maande later het dit aan die lig gekom dat die hoofverdagte sowat 500 meter vanaf die plek waar die voertuig gestop het woon, maar die polisie het nagelaat om die huise in die onmiddellike omgewing te deursoek.

Dit was hoofsaaklik deur Japie van der Goot se knaende navrae dat die hoofverdagte vasgetrek is en in aanhouding moes bly. Die hof was op die punt om hom op borgtog vry te laat toe die polisie nagelaat het om die verdoemende getuienis van vingerafdrukke wat op die toneel gevind is by die hofdossier in te sluit.

Dit is duidelik dat, indien dit nie vir Vivo-boerevereniging se steunkring was nie, daardie moordenaars vandag steeds op vrye voet sou wees om nog meer gruweldade te pleeg.

Mnr Van der Goot sê: “Verstaan mooi, ons wil niemand slegsê nie en ons wil ook nie die polisie se werk doen nie, maar ons moet beslis iets doen.”

Daar is ook gevalle waar die boeregemeenskap en dorpenaars saamwerk en veiligheidsaksies koördineer, soos by Louis Trichardt.

Misdaad neem af

Dirk Meissenheimer, voorsitter van Louis Trichardt se dorpswag, verklaar dat misdaad in die dorp met 95% afgeneem het in die eerste ses maande nadat die inwoners hulleself begin organiseer het.

Sy boerevennoot, Jacques Bouwer, vertel dat die veiligheidsituasie dramaties versleg het met die toestroming van Zimbabwe-burgers oor die grens na die PWV-gebied met die verwagting van ‘n beter heenkome.

Baie van die mense kon nie verder as die Louis Trichardt-omgewing vorder nie, wat tot ‘n samedromming in sekere gebiede in die bosse gelei het. Die staat kon klaarblyklik nie die misdaad wat uit hierdie toestand gespruit het, stuit nie.

Mnr Bouwer sê: “Die situasie het sodanig versleg dat plaasaanvalle, gewapende roof en moord feitlik alledaags geword het.”

Die samebinding van die plaas- en dorpswag het tot gevolg gehad dat die gebied relatief stil geword het. Aanvalle word voorkom bloot deurdat mense hulle oë oophou, vreemdelinge se teenwoordigheid bevraagteken en mekaar oor voertuigbewegings inlig.

Almal wat by die veiligheidstrukture betrokke is, verklaar dat hulle graag met die polisie saamwerk en sekere inligting uitruil, en dat hulle veel eerder die polisie se werk aan die polisie sou wou oorlaat – hulle word immers daarvoor betaal.

Boere het met genoeg uitdagings op landbouterrein te kampe, maar ongelukkig het die staat se strukture sy mense in die steek gelaat. Die leemte wat die afskaffing van die kommando’s gelaat het, is nooit gevul nie.

Heeltemal wettig

Mnr Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, beklemtoon dat die boere nie besig is met enige onwettige of vigilante-bedrywighede nie. Die landelike beveilingingsplan is al tydens Nelson Mandela se bewind goedgekeur, sê hy: “Dit is ‘n staatsgesanksioneerde aksie en veiligheidsverteenwoordigers van TLU SA dien saam met polisielede in die Nasionale Landelike Beveiligingskomitee. Ons werk dus van nasionale vlak af tot op grondvlak.”

Die gebroke landsgrense bly ‘n probleem, daar is steeds te veel misdaad in die land en elke plaasaanval is een te veel. “Ons kan nie aan alles ‘n verskil maak nie,” sê Japie van der Goot, “maar ons glo dat elkeen van ons die verantwoordelikheid het om daar waar jy kan, ‘n verskil te maak.”

Vir meer inligting oor TLU SA se Landelike Beveiligingsplan en die organisasie van steungroepe, praat met Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder: Veiligheid, by 012-804-8031.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment