Veelsydige-bultrekker:-Claas-Celtis-slaan-aartappelboere-stom
Sowat van krag en doeltreffendheid het hulle nog nie gesien nie, sê die Verre Noorde se aartappelboere as hulle Claas se Celtis 436 in aksie bewonder.
Die Celtis maak deel uit van die Claas-trekkerreeks wat deur Barloworld Agriculture versprei word.
Hierdie trekker van 59 kW met sy twintigspoedratkas doen lag-lag werk waarvoor ander groteres botweg stuit.
Nie een ander trekker kan by Claas kom nie, verklaar Naas Schutte van Limpopo Trekkers terwyl hy hom verlekker in die Celtis se vernuftigheid. En hy behoort te weet, want hy is lank in die trekkerland en het op sy dag ook ander soorte trekkers verkoop.
“Maar nie een ander trekker kom by Claas nie,” sê Naas. “Hy is geskik vir alle soorte werk en die veelsydigste trekker wat ek ken.”
Boere in die omgewing noem die Celtis 436 al die aartappeltrekker, want met sy kragtige kragaftakker en verstandige ratverhoudings is daar geen ander trekker wat saam met hom kan aartappels uithaal nie.
Vra maar vir Hannes Bekker van Willie Bekker Boerdery. Hy het sommer twee Celtisse gekoop toe dié trekker lag-lag kom aartappels uithaal het in nat grond waar ander trekkers niks kon regkry nie.
Naas verduidelik: “In moeilike, nat toestande moet jou trekker kan stadig vorentoe beweeg terwyl die kragaftakker nog steeds die aartappeluithaler vinnig genoeg aandryf om die grond ordentlik deur die sif te skud en die aartappels skoon en netjies op die grond te plaas.
“Teen 1 100 enjinomwentelinge loop die Celtis se kragaftakker 540 omwentelinge per minuut en dan is sy spoed 0,7 km/h teenoor ander trekkers se 0,9 km/h.
“As jy met ’n gewone trekker vinnig genoeg vir die regte kragaftakkerspoed ry, lyk dit of hy die aartappels so vinnig toegooi as wat hy hulle uithaal. Maar as jy ’n Celtis op dieselfde plek gebruik, lê die hele oes netjies bo-op die grond – gereed vir optel en geldmaak,” sê Naas.
“Ry jy met die gewone trekker stadig genoeg om die aartappels uit te haal en nie weer te begrawe nie, dan loop jou kragaftakker te stadig sodat die nat grond nie mooi deur die matte kan sif nie en dan loop staan jou trekker omdat die vrag op die mat te swaar word.”
Maar dit is nie al nie. Teen 1 100 omwentelinge draai die Celtis se enjin 320 000 keer minder per werksdag, wat beteken dat sy enjin veel langer hou én dat jy 2 tot 2,5 liter diesel per uur bespaar.
’n Verdere voordeel van die Celtis is sy sterk driepunthyser, wat sonder sweet 3 500 kg optel sodat hy enige aartappelplanter en -uithaler kan hanteer. Daar is groter trekkers wat nie ’n aartappelplanter kan oplig nie.
En om alles te kroon, is die meer doeltreffende Celtis 436 baie pryskompeterend in vergelyking met ’n ander soort trekker wat ’n kilowatt of wat sterker is, maar nie saam met die Celtis kan aartappels uithaal nie!
Benewens die Celtis 436 met sy 59 kW, kry jy ook die Celtis 446 van 66 kW en die Celtis 456 van 74 kW.
Maar die Celtis is nie net vir aartappelboere nie. Dit is ’n maklik-om-te-besit, veelsydige trekker wat sy man teen enige mededinging op enige plaas staan – en boonop geniet hy die soliede diens- en onderdelerugsteun van Barloworld Agriculture en hulle sterk span handelaars regoor die land.
Vir meer inligting oor Claas se Celtis-reeks, skakel:
- Henry van Vuuren 083-641-9151 (KwaZulu-Natal, Oos-Vrystaat, Mpumalanga, Gauteng en Limpopo)
- Jimmy Immelman 083-635-2220 (Wes- en Oos-Kaap)
- Gerhard Bezuidenhout 083-627-0228 (Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes)