Categories: NewsPublished On: 30th January 2012

Veediefstal-teenaksie-in-aksie

By 2 min read
391 words

‘n Werksessie oor die bekamping van veediefstal is onderbreek sodat die aanwesiges eerstehands kon kennis neem van ‘n optrede teen veediewe.

Die werksessie van die provinsiale veediefstaleenheid van die SAPD was in sy tweede dag by Agri SA se kantoor in Pretoria toe lede van die Veediefstal-eenheid ‘n bakkie vol gesteelde skape op die N1, binne Pretoria se stedelike grense, vasgetrek het. Die bakkie en die verdagte is na die werksessie geneem. Daar was 23 gesteelde skape in die bakkie.

Die verdagte is minder as ‘n week gelede in die Limpopo-provinsie op R2 000 borg weens veediefstal vrygelaat. Die gebrek aan afskrikking deur dié vonnisoplegging vir veediefstal was vir almal duidelik. Die waarde van die skape op die bakkie was ongeveer R23 000. Twee van die skape was reeds dood – waarskynlik weens spanning en versmoring en verskeie was erg getraumatiseer. Die skape is onmiddellik versorg.

Lt Kol Scott, die koördineerder van Veediefstaleenhede in Gauteng, het ‘n leidende rol in die werksessie gespeel wat gerig was op meer doeltreffende bekamping van veediefstal in die provinsie. Rolspelers wat die werksessie bygewoon het, het verskeie eenhede van die SAPD, onder andere die Veediefstal-eenhede, Landelike Veiligheid en Misdaadintelligensie, ingesluit. Georganiseerde landbou is verteenwoordig deur Agri Gauteng, TLU SA (Sentraal) en die Gauteng Rooivleis Produsente Organisasie (GRPO).

Van die besprekingspunte wat aandag geniet het, was die kommunikasie tussen alle rolspelers wat deur die voorkoms van veediefstal geraak word; bevel en beheer; die doeltreffende vervolging en veroordeling van die misdadiger; wetgewing en meer spesifiek die nakoming van brandmerk- en tatoëer-regulasies deur alle boere en ander rolspelers in dié waardeketting.

Die klaarblyklike gebreke in die afskrikwaarde van vonnisse, asook die gebruik van tegnologie, het veral aandag geniet. Daar is tot die slotsom gekom dat ander belanghebbendes soos ondernemings by abattoirs en veilingskrale, tolhekmaatskappye en staatsdepartmente op nasionale-, provinsiale- en plaaslike vlak betrek moet word aangesien hulle almal belangrike skakels in die bekamping van veediefstal is.

‘n Beroep is weer eens op boere gedoen om toe te sien dat hulle diere op die voorgeskrewe wyse gemerk word. Buiten die feit dat ‘n landswet oortree word en boere strafregtelik vervolgbaar is indien diere nie korrek gemerk is nie, bemoeilik dit die oplossing van veediefstalsake.

Lt Kol Johan Scott van die SAPD se veediefstal-eenheid se alle ure-telefoonnommer is 082-335-1083.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0