Categories: NewsPublished On: 5th October 2015

Vangysterkursus gee hoop vir boere in Humansdorp-omgewing

By 1 min read

Om roofdiere met slagysters te vang is die laaste, maar dikwels die enigste, keuse wat ‘n boer oor het om van sy kosbare lewende bates te beskerm.

Boere in die Humansdorp-distrik het drie jaar gelede hulle eerste “Predasie”-kursus wat deur Niel Viljoen, Roofdierspesialis aangebied is, bygewoon. In daardie stadium was jakkalse nog nie ‘n probleem nie, met net enkeles wat deurgesyfer het. Nou, drie jaar later, het die jakkalsprobleem so vererger dat Niel weer gekontak is vir verdere opleiding. Die kursus is op Kevin Pretorius se plaas, wat langs die Kougarivier strek, aangebied. Die daglange sessie is deur 13 boere en 22 plaaswerkers bygewoon.

Die oggend is gewy aan die oordrag van teorie en die middag is gebruik vir praktiese toepassing. Die deelnemers is gewys hoe om vangysters te stel en het hulle gebiede gaan verken om plekke te bepaal waar vangysters doeltreffend gestel behoort te kan word. Daar moes na bepaalde tekens in die veld gelet word soos die bossies waar jakkalse mis – wat byvoorbeeld as ‘n ideale stelplek uitgewys is.

Niel du Preez, NWKV-bestuurslid in die Kareedouw- / Humansdorpomgewing, het gesê dat boere met opgewondenheid en hoop na hulle plase teruggekeer het omdat die nuwe vaardighede wat hulle aangeleer het hopelik sal meehelp om die jakkalsprobleem in hulle omgewing hok te slaan.

Bron: NWKV

 

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment