Van rugbyspeler tot bobaasboer

Johann 1
Die Muller-gesin in 'n kanolaland. Hulle is Mariska, Alissa, Johann, Juann en Anja. Die egpaar het in 2014 teruggekeer na Suid-Afrika en by die boerdery aangesluit.
Harde werk is wat die deurslag gee met rugby, maar ook met boerdery. Johann Muller boer saam met sy pa, Quintus, en broer, Ignatius, op die familieplaas, Patrysfontein, in die in die Suid-Kaap.
Die reënval daar is tussen 400 en 450 mm per jaar en die klimaat is gematig met ՚n wintertemperatuur wat selde onder 15 °C daal. Al is die somertemperatuur 35 °C , sorg die suidoostewind dat dit leefbaar is.
Die plaas van sowat 2 000 ha in die voetheuwels van die Langeberge is al ses geslagte lank in die besit van die familie. “Die plaas lê in die winterreënvalstreek, maar meer as 50% van die reën val deesdae in die somer, wat dit nogal ՚n uitdaging maak om wintergraan te stroop,” sê Johann.
Die grondtipes sluit sand, sanderige leem, rooi kleierige grond en gruisgrond in. “Dit is voordelig, want selfs in nat jare kan ons steeds ՚n goeie gemiddelde graanoes kry.”
In die klowe is daar fynbos en die vleisbeeste wei op uitvalgrond wat ongeskik is vir die verbouing van koring en kanola.
Op die plaas is tot onlangs met skape, droëland-melkery en graan geboer. “Dit is ՚n marginale landboudistrik en dit is taai om hier te boer. In die verlede is groot met vee geboer, maar die klimaat en omstandighede het so verander dat daar feitlik nie meer vee op die plaas oor is nie.”
Johann, Ignatius en hulle suster, Telana, het op die plaas grootgeword en op Vleesbaai skoolgegaan. Daarna is Johann na Hoër Landbouskool Oakdale waar hy uitgeblink het in rugby. Na skool is hy Durban toe om elf jaar lank vir die Sharks rugby te speel voordat hy vier jaar lank vir Ulster in Noord-Ierland gaan speel het.
Hy en sy vrou, Mariska, het nege jaar gelede teruggegaan plaas toe waar hulle saam met hulle drie kinders, Anja (14), Juann (11) en Alissa (6), lekker naby oupa Quintus en ouma Johlene woon.

Pa Quintus, Johann en Ignatius Muller van Mosselbaai doen baie van die werk op die plaas self. Hier is een van hulle besig om koring te stroop.
Rugby
“Die grootste ooreenkoms tussen rugby speel en boerdery is selfdissipline, tydsberekening en harde werk,” vertel Johann.
“In rugby moet ՚n mens baie harder werk as enigiemand anders en in boerdery is dit dieselfde. As jy aan die einde van die maand jou rekeninge wil betaal en volhoubaar wil boer, moet jy baie selfdissipline hê en so ver moontlik die regte ding op die regte tyd doen. As iets gedoen moet word, moet jy dit dadelik doen en nie na môre of oormôre uitstel nie, want dit bepaal of jy die paal gaan haal of nie. Ek is dankbaar dat rugby my geleer het om by die reëls te bly.”

Johann Muller het tussen 2010 en 2014 vir Ulster in Noord-Ierland rugby gespeel en was ook vir ‘n paar wedstryde die kaptein. Toe Ulster in 2022 teen die Stormers in Kaapstad gespeel het, het hy en sy gesin sy ou span gaan ondersteun.
Weg met nie-winsgewende goed
Toe Johann terug is plaas toe het sy pa en broer met graan, volstruise, skape en suiwelbeeste geboer. “Baie van die kommoditeite was net nie meer geldelik volhoubaar nie en ons het begin om daarvan ontslae te raak.”
Weens die verbod op die uitvoer van volstruisvleis as gevolg van voëlgriep was ook dié boerderyvertakking glad nie meer winsgewend nie.
Hulle het ook van die skape ontslae geraak. “Hier is wildplase reg rondom ons en gevolglik is hier baie ongedier-tes soos jakkalse en rooikatte – ons kon net nie meer volhoubaar met die skape boer nie.”
Die insette in die melkbedryf het ook te hoog geraak en die melkprys het nie daarmee tred gehou nie. “Dit was ՚n droëland-melkery – boere met water kan nog baie suksesvol met melk boer want hulle kan die beeste dag en nag laat wei. Soms moes ons die koeie van drie tot ses maande lank voer, en die somme het net nie meer geklop nie.”
Net ՚n klompie Bonsmaras wat op uitskotgrond wei is nog oor.
Graanboerdery in ‘n nie-graan gebied
“Nou boer ons 99% met graan in ՚n gebied wat tradisioneel nie ՚n graangebied is nie. Bewaringsboerderybeginsels wat grondvog bewaar, saam met nuwe tegnologie, maak dit nou vir ons moontlik om met graan te boer. Vanweë die hoë reënval is daar vog in die grond en ons bewaar dit om vir ons ՚n gemiddelde of selfs bogemiddelde oes te verseker, al is dit nie altyd maklik nie.”
Die afgelope nege jaar teken hulle aan hoe bewaringsboerdery en vogbewaring in die grond die graanbedryf bevoordeel. “Dit is die enigste manier wat ons volhoubaar vorentoe sal vat. Dit is ՚n lang, uitgerekte proses om die grond reg te kry – grondregstelling gebeur nie oornag nie – maar dit is absoluut die moeite werd.”
Tegnologie is ook noodsaaklik vir presisieboerdery en hulle gebruik dit vir die toediening van kalk, chemiese en organiese kunsmis, spuit van plaagen onkruiddoder, en stroop.

Die Mullers plant koring en kanola in ‘n streek wat nie tradisioneel ‘n graangebied is nie. Hier stroop hulle kanola.
Klimaatsverandering is ‘n werklikheid
“Klimaatsverandering is ՚n werklikheid. Ons uitdaging in die landbou is om slimmer, beter en meer volhoubaar te boer deur by die omstandighede aan te pas.”
Kultivars wat by die nuwe klimaat aangepas is maak ՚n groot verskil, maar praktyke moet ook aangepas word om elke jaar ten spyte van minder – of meer – reën dieselfde of beter oeste te behaal.”
Johann meen klimaatsverandering moenie as ՚n bedreiging beskou word nie, maar boere moet eerder uit die boks dink om die verandering in hulle guns te laat tel. “Dit is nie altyd maklik nie, dit is ՚n uitdaging, maar as ons volhoubaar wil boer moet ons dit doen; ons het nie regtig ՚n keuse nie,” sê hy.
“Die sukses van die bedryf hang maar 90% van die liewe Vader se genade af: Hoeveel reën ons van bo af kry, wanneer skyn die son, wanneer die wind waai. Tien persent is in ons hande en dit gaan oor bestuur. As jy nie jou 10% honderd persent reg doen nie, kan die liewe Vader maar sy reën stuur, maar dit gaan steeds nie werk nie …”
Werkers deel van die familie
“As ՚n familieboerdery is ek en my pa en broer al drie baie betrokke – ons plant, spuit en stroop self. Ons het wonderlike werkers wat eintlik saam met my grootgeword het op die plaas. Dit is vir hulle ook ՚n familieboerdery en dit is vir hulle lekker om hier te boer. Vir ons is dit belangrik om hulle te kan ondersteun, om hulle te kan leer oor landbou en volhoubaarheid en oor waardes. Ons het ՚n baie goeie verhouding met hulle – hulle is gelukkig, ons is gelukkig en ons werk baie nou en goed saam.”

Johann boer saam met sy pa Quintus en broer Ignatius op die plaas Patrysfontein tussen Herbertsdale en Mosselbaai. Van links is Vicky Davis, wat onlangs ‘n onderhoud vir die televisiereeks LandbouWeekliks gemaak het, Mariska, Johann met Alissa, Ignatius, sy ma Johlene en pa Quintus, met Anja en Juann voor.
Klimaat en kostes knyp
Johann meen die grootste uitdaging in boerdery sal maar altyd die klimaat bly. Die koste van werktuie en tegnologie is net so ՚n uitdaging. “Met presisieboerdery het jy die regte toerusting nodig en nuwe werktuie wat ingevoer word is met ons swak rand onbekostigbaar duur.”
Hou aan leer of hou op boer
“Ek leer elke dag iets by die mense om ons en by die natuur,” sê Johann. “Ek leer ongelooflik baie by ons vennoot Ruben Barnard. In ons distrik is baie kundige mense, boere wat al dertig, veertig jaar in die bedryf is en weet, wat al hulle koppe ՚n paar keer gestamp het, en ons eintlik help om nie ons koppe teen daardie selfde klippe te stamp nie. Ons leer elke dag by die mense rondom ons. ՚n Mens moet soos ՚n spons wees wat alles opneem. As jy die dag dink jy weet alles, is dit die dag wat jy moet ophou boer.”

Weens klimaatsverandering het die Mullers besluit om van die skape, melkkoeie en volstruise ontslae te raak en op koring en kanola te fokus. Hier word ‘n Equalizer-planter gebruik om koring te saai.
Suid-Kaap is nie vir sissies nie
Die Suid-Kaap is nie vir almal bedoel nie; dit is ՚n taai plek om te boer. “Die reënval is ongelooflik wisselvallig, ons het nie die beste gronde nie en ons moet baie hard werk om in ons boerdery suksesvol te wees. Mense wat van elders af kom dink altyd dit is ՚n wonderlike, mooi plek, die munisipaliteite werk, ons is by die see, ons het die berg. Dit is so en ten spyte van die uitdagings vir boerdery, is dit ՚n baie spesiale plek om jou kinders groot te maak. Ek sal dit vir niks in die wêreld verruil nie, ek is regtig gelukkig hier. My vrou en kinders is ook gelukkig – dit is lekker om hier te kan leef.”
Johann glo jy kan ՚n Suid-Afrikaanse boer enige plek in die wêreld sit en hy sal ՚n sukses daarvan maak. “Ons is taai, ons is vasbyters. Suid-Afrikaanse boere het net iets spesiaal aan hulle – ongelooflike deursettingsvermoë, ՚n wil om suksesvol te wees en om dinge te maak werk.
“Ek is trots op ons Suid-Afrikaanse boere. Ons kry nie hulp van die regering af nie, en dit gaan nie verander nie. Ons word as vyande in ons land beskou, maar dit is ons beslis nie. Ons uitdaging is om volhoubaar te kan boer en mense te kan kosgee in die land, om te sorg dat daar nie hongersnood in ons wêreld is nie, en dit verg buite die boks dink.”
Kontak Johann Muller by 082- 898-1174 of johann@373.co.za vir meer inligting.