Categories: NewsPublished On: 16th September 2011

Van ’n groot ronde baal tot ruvoer in net tien minute

By 4 min read

Met Staalmeester se M40-baliemeule is voermaakdag nou net ’n plesier vir almal op Palmietfontein.

’n Baal moet teen sy grein in die bak geplaas word, beduie Johan Hancke van Bethal.

Ek het iets gesoek waarmee ek my ronde bale vinnig genoeg, fyn genoeg kan kerf vir my Merino’s en ek het dit gekry,” sê Johan Hancke van die plaas Palmietfontein naby Bethal. Hy praat van Staalmeester se M40- baliemeule.
 
Die Hanckes en Palmietfontein se geskiedenis kom al van 1880 af toe Johan se oupagrootjie hom daar gevestig het, maar in die jongste 15 jaar het sy boerdery verdubbel as gevolg van die voerkraalstelsel wat hy vir sy gladdelyf-Merino’s en sy Drakensbergers ingestel het.
 
Die beeste en skape is op ’n volvoerstelsel waarvan die 10% ruvoergedeelte natuurlik baie belangrik is. “Ek het lang jare gekom met verskillende mengsels en het alles probeer van die kafeteriastelsel tot pille, maar op die ou end het ek gevind die beste is om die ruvoer in ’n volvoermengsel in te meng.” Hy sê hy het ’n goeie mengwa, maar die Merino is ’n selektiewe lekkerbekvreter en as die ruvoer nie fyn genoeg gemaal is nie, kies hy die konsentraat tussen die ruvoer uit. As jy jou kerwermenger te lank laat loop om die ruvoer fyn genoeg te kry, dan skei die twee weer. Die beste opsie is dus om eers die ruvoer fyn genoeg te maal en dan te meng.
 
Vroeër het dit hom ’n hele dag geneem om ’n week se voer vir die sowat 1 500 skape te kerf. Nou, met Staalmeester se M40, doen hy dieselfde werk in ’n uur. Vir die skape se voer word 8 mm-siwwe in die balie geplaas en nog steeds neem dit net so 8 tot 10 minute om ’n baal tef van 1,5 m op te vreet. ’n Baal armmanslusern verdwyn binne 7 minute.
 
Die meule se bak beweeg kloksgewys oor ’n stel hamers en dit is net belangrik dat die baal teen sy grein, met ander woorde antikloksgewys, in die bak geplaas moet word sodat die masjien hom kan vasgryp en uitpluis. 
 
Johan se meule is met ’n awegaar toegerus in plaas van ’n blaser. “Ek haat stof en ek het gevind dat dit die manier is waarop die minste stof gemaak word.” Die awegaar lewer die gemaalde produk in ’n ou stroper-blarekar. Vandaar word dit in ’n hoop op die grond gestort en in sakke gegooi.
 
Die M40 kan elektries aangedryf word, maar Johan het gevind dat sy ou 60 kW Massey Ferguson heeltemal genoeg krag het om die meule hidroulies aan te dryf. “As jy ’n lekker groot skuur en sterk genoeg krag het vir die 50 kVA-motor, sal dit ook ideaal wees om die proses binnenshuis te doen waar die wind nie ’n rol speel om die stof te skep nie.”
 
Die meule kan met ’n geut toegerus word om mielies saam met die bale te maal, maar Johan het dit nog nie so gebruik nie. “Ek het iets gesoek om my ronde bale te maal en toe ek die produk so drie jaar gelede by Nampo gesien het, het ek geweet dit is die antwoord.”
 
Staalmeester se manne het dit vir hom plaas toe gebring en hom gehelp om die masjien aan die gang te kry, maar dit was sedertdien nog nooit weer nodig om hulle uit te roep om na iets te kyk nie. Die M40 het minimale onderhoud nodig met net ’n paar ghriespunte.
 
Johan glo ook as ’n mens ’n masjien reg hanteer, sal hy vir jou die regte diens lewer: “Jy ontwikkel ’n aanvoeling vir ’n masjien en as jy mooi en reg met hom werk, dan bly hy werk.” Met die meule is dit byvoorbeeld belangrik dat die awegaar eerste moet loop, dan die meule en dan gooi jy die eerste baal in. 
 
“Dit is nou nie meer vir my ’n straf om voer voor te berei nie en die werf is ook nie vol lang gesigte as maaldag nader kom nie, maar die beste beloning lê in beter diereprestasie as gevolg van ’n behoorlike volvoermengsel,” sê Johan. 
 
Bel vir Eduan Booyens by 082-883-6484 of Staalmeester by 018-431-0300 om jou M40-baliemeule te bestel.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment