Van der Colff Witdorpers teel skape wat vir die boer sorg
Mooi vergaan, maar deug bly staan. Hierdie wyse ou waarheid geld onverbiddelik vir Van der Colff Witdorpers op die plaas, De Hoek, so op die grens van die Midde-Karoo en Boesmanland doer tussen Carnarvon en Van Wyksvlei.
Witdorpers wat werk
’n Mooi skaap is ’n lus vir die oog en glad nie onwelkom nie, sê die teler, Johan van der Colff, maar ’n skaap ’n reg gee om op De Hoek te vertoef. Maak nie saak hoe mooi ’n ooi mag wees nie; as sy nie lam nie, word sy uitgeskot.
Dieselfde geld vir ramme, sê Johan. Dis altyd goed en lekker en mooi om ’n mooi ram te hê, maar mooi alleen betaal nie die rekeninge nie – die ram moet sy werk fluks doen en lammers teel wat vir die boer geld in die sak inbring.
Veldskape
Johan het voorheen ook aan skoue deelgeneem, maar nou sien jy sy skape net by veldskoue waar jy byvoorbeeld tien ooie van die veld af haal en gaan skou. Dit gee ’n aanduiding van hoe jou hele boerdery-besigheid lyk, en nie net hoe goed jy een of twee skape spesiaal kan versorg nie.
Buitendien kan dit diere se produksie benadeel as jy hulle vir lang tye voer om hulle vir skoue voor te berei.
Johan verkoop elke jaar veldramme uit die hand en by twee veldramveilings en twee veilings vir gevoerde ramme. Die gevoerde ramme rond hy net ses maande af sodat hulle mooi lyk.
Tevrede kopers
Dis vir hom belangrik dat ’n koper ’n ram dadelik saam met ooie moet kan veld toe jaag sodat hy kan begin werk. ’n Oorvoerde, onfikse ram haal dikwels nie die paal nie en daarom verkoop Johan net ramme wat dadelik kan werk.
Die talle tevrede stoet-, kudde- en opkomende boere van regoor die land wat weer en weer kom ramme koop bewys dat Van der Colff Witdorpers se teelbeleid die kol tref. Dié tevredenheid is geen wonder nie, want Johan verkoop net ramme wat hy self sal gebruik en hy selekteer streng volgens prestasie in ekstensiewe toestande op die veld.
Dis lekker om met Witdorpers te boer, sê Johan: “Dis ’n mooi skaap en in ons wêreld het ons gehardheid ingeteel. Ons teel ooie wat genoeg melk produseer om hulle lammers ordentlik groot te maak en ramme wat genoeg ooie kan dek.”
Diere van die hoogste gehalte
Met streng keuring het Johan daarin geslaag om die gehalte van sy kudde so op te stoot dat net sowat 1,5% van sy aanteel deesdae uitgeklas moet word omdat hulle nie aan sy streng produksie-vereistes voldoen nie.
Of jy genetika wil aanskaf om jou eie Witdorperstoetery te vestig, uit te bou en te bestendig, of ramme vir lonende kommersiële gebruik of kruisteeltprogramme wil koop, Van der Colff-witdorpers is die antwoord.
Kom kyk op 9 September by Loeriesfontein gevoerde veiling of op 22 September by Brandvlei se veldramveiling of in Februarie 2011 (hou ProAgri dop) by Van der Colff-Witdorpers se eie veiling. Jy kan ook rustig jou ram op die plaas kom uitsoek. Praat met Johan van der Colff by 083-231-9859 of 053-383-2000 vra Vanwyksvlei 1604 of e-pos jvdc@mtnloaded.co.za.