Categories: NewsPublished On: 31st May 2010

Valtrac-se-FH-maak-optel-ligte-werk

By 3 min read

“As ’n mens ’n olifant het, en verstand en geduld, kan jy wonders uitrig,” het Sagmoedige Neelsie gesê nadat hy en sy olifant, Herrie, een middag die kranse versit het om die pad deur Meiringspoort snaarreguit te maak. Die episode word beskryf in Sonde met die Bure.

Goeie nuus is dat vandag se boer nie meer hoef te droom oor hoe nuttig Herrie op die plaas gebruik sou kon word nie – jy kan jou eie werksolifant aanskaf: Valtrac se FH Faresin teleskopiese hanteerder. En die FH kan dalk net vir Flukse Herrie staan.

Die Faresin-groep vervaardig reeds sedert 1973 meganiese produkte van die hoogste gehalte. Sy teleskopiese hanteerders berus op die vervaardiger se skatkis van ervaring en kundigheid, en is saam met gebruikers ontwikkel om te verseker dat dit nommerpas aan elke behoefte voldoen.

Faresin is deurlopend besig om sy produkte nog verder te verbeter om immer op die voorpunt van die tegnologie te bly.

Op die plaas verrig die FH ’n magdom take vir die boer: Voerhantering, misverwydering, verskuiwing van swaar toerusting, grond of rommel, kunsmis-, saad- en produktehantering, stapelwerk, oplig van personeel om op hoë plekke te werk en selfs sleepwerk.

Om dit alles te doen, het die FH ’n wye verskeidenheid hegstukke wat een-twee-drie aan sy teleskopiese arm gekoppel kan word. Van die hegstukke wat op die plaas nuttig is, is baalgrypers vir ronde en vierkante bale van enige grootte, palletvurke, skoppe met of sonder tande en grypers, misoptelvurke met grypers, ’n verskeidenheid armverlengstukke met of sonder wenaste, betongietemmers en personeelplatforms waarmee werkers omhoog gelig kan word om aan dakgewels, hoë ligte of radiomaste te werk, boomtoppe af te saag of te snoei.

Jy kan ook omskakelingsplate vir jou FH kry sodat jy bestaande hegstukke van ander fabrikate kan gebruik.

Om al hierdie werk uitmuntend te verrig, het die FH die volgende wen-kenmerke:

Sy kragtige Deutz-enjin haal uit die minimum diesel altyd oorgenoeg krag vir alle uitdagings. Die enjin en oordragstelsel is aan die kant gemonteer vir perfekte balans, onbelemmerde sig en maklike bereikbaarheid tydens onderhoud.

Sy robotgesweisde, knakbestande staalonderstel verseker dat die masjien sy vrag soos ‘n man dra en altyd stabiel bly.

Sy kragtige teleskopiese laai-arm is gebou om swaar vragte te hanteer sonder om te knak of te buig. Die hidrouliese silinder is buite gemonteer vir maklike onderhoud.

Sy aste is stewig en duursaam vir lang, veilige diens, selfs in strawwe omstandighede.

Sy gerieflike kajuit spreek van veiligheid, maklike hantering en ’n perfekte uitsig oral waar sy teleskopiese “slurp” kan bykom. Die arm wat al sy aksies beheer pas knus in jou regterhand en dit is baie maklik om met die FH te werk.

Die FH kan selfs in klein ruimtes aangewend word, want hy stuur perfek vanweë sy drieledige stuurstelsel: As jy gewoonweg werk of van plek tot plek met hom ry, stuur hy net soos jou bakkie met sy voorwiele.

Wanneer jy knapper wil draai, druk jy ’n knoppie en siedaar – as jy met die voorwiele na regs krink, draai die agterwiele na links om jou draaisirkel drasties te verklein.

Jy kan hom ook met die druk van ’n knoppie verstel sodat al vier sy wiele in dieselfde koers krink vir ’n krapstappie.

Die FH is ’n werktuig in sy eie klas wat die boer se taak immer makliker maak. Wat boere veral opgewonde maak, is sy mededingende prys en die feit dat hy in Suid-Afrika verskaf en gerugsteun word deur Valtrac – die landboumaatskappy wat bekend is vir sy skitterende produkte en legendariese diens aan die boer.

As jy ook die FH wil benut om groter hoogtes in jou boerdery te bereik, praat met Hennie du Toit van Valtrac by 056-817-7308 of stuur vir hom ’n e-pos-boodskap by henniedut@valtrac.co.za. Besoek ook www.valtrac.co.za om die res van Valtrac se produktereeks te bekyk.
 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0