Categories: NewsPublished On: 7th April 2011

Uit die Kuierkombuis: ‘n Ete vir twee met hoender

By 4 min read
714 words
Die herfsseisoen begroet ons en vandag dek ons ‘n tafel vir twee met gesonde-en-min-moeite geregte.   
 
Hoendervleis is altyd ‘n wenner. Dink maar aan hoendersop, gebakte hoender,  gestoofde en gebraaide hoender, hoenderlasagne, hoenderpastei (met regte skilferkors)  asook hoenderslaai. 
 
O ja, en dan die heerlike, maar bietjie ryk, gevulde hoenderrol. Daarvoor moet ‘n mens egter weet hoe om die vars, heel hoendertjie  wat nog nie gevries is nie, netjies te ontvel en te ontbeen. Daarna maak u ‘n vulsel van u keuse, plaas dit op die oopgevlekte “heel” hoender, rol op, bind vas en druk in die oond met ‘n geurige sousie. Daarna kan dit warm of koud, netjies gesny, bedien word.
 
‘n Paar gaarmaakwenke vir hoendervleis
 
As ‘n stowegereg: Prut hoenderporsies in suurroom of Bulgaarse jogurt oor ‘n lae temperatuur tot sag. Sit dit dan sodra dit gaar is, net so voor (natuurlik met die nodige garnering!) en bedien dit saam met gaargestoomde koring. Daarmee saam, ‘n slaai van u keuse.
 
Vir ‘n eksotiese gereg kan u die hoender geurig voorsit met die volgende “eksotiese” bolaag!  Meng gesnipperde dadels, ingemaakte gemmer in stukkies gesnipper,  ½ tot 1 teelepel mosterdpoeier, ‘n bietjie gesnipperde uiegras asook olyfolie/druiwepit-/avokado-olie, na smaak. Geur met ‘n knippie sout.  Maak net warm in ‘n kastrol (dit moet nie kook of braai nie), skep oor porsies gaar hoender en sit dit warm voor saam met rys.
 
‘n Geurige  hoendergereg vir die wat op dieet is: Verwyder die vel van ‘n hoenderborsie,  sny hom versigtig driekwart oop (op die plekkie waar amper ‘n natuurlike skeiding in die vleis is),  vul dit met fyngesnipperde spinasie, fyngekapte ui en tamatieblokkies gegeur met die nodige speserye.  Stoom gaar en rooster onder die oond se element.  Dis ‘n heerlike hoendergereg om sonder skuldigvoel aan te smul!
 
Vir die wat hou van ‘n braaihoender: Braai ‘n hoender tot lekker bruin en bros in die oond of glasoondjie (konveksie-oond). Intussen rooster u sonneblomsade of dennekerwels liggies en strooi die geroosterde sade oor die gaar gebraaide hoendertjie. ‘n Soetsuursous smaak baie lekker saam met hierdie hoendergereg!
 
Een gereg wat nog nie genoem is nie en met die oë ook “geproe” kan word, is appelkooshoender:
 
Appelkooshoender
4 – 6 porsies hoender (gemengde porsies)
1 pakkie uie- of sampioensoppoeier
1 houertjie van 250 ml appelkoosvrugtesap
‘n Paar vars, ingelegde of gedroogde appelkose vir garnering
 
Metode:
Pak die hoenderporsies in ‘n plat bak, bestrooi dit met die soppoeier en giet die appelkoossap versigtig bo-oor.
 
Bak die hoenderporsies vir 30 tot 40 minute in ‘n voorverhitte oond van 180 °C, tot die hoender mooi verbruin het, sag en gaar is.
 
Bedien dit op wit langkorrelrys met gemengde groente en ‘n slaai. Versier met vars, ingelegde of gedroogde appelkose en vir ‘n tikkie kleur (soos op die foto) kan ‘n kersie in elke appelkosie kom.
 
En nou vir ‘n maklike nagereg met beskikbare bestanddele:
 
Gebakte pere
4 ingemaakte peerhalwes
12,5 ml botter
25 ml bruinsuiker (van die soort vir bakdoeleindes, wat ‘loop’  in klam weer)
12,5 ml koekmeelblom
2 ml kaneel
Knippie sout
 
Metode:
Pak die peerhalwes op ‘n bakplaatjie of in ‘n vuurvaste bak wat vooraf met kleefwerende middel gesmeer of bespuit is.
Meng die res van die bestanddele en skep binne-in elke peerhelfte se holtetjie.
Bak vir 5 – 7 minute in ‘n voorverhitte oond van 160 °C of totdat die vulsel mooi verbruin het.
Sit die geurige gebakte peerhalwes voor met roomys of room of ‘n bietjie dun vla.
 
Heerlik! (Dis toe glad nie so sleg om met die gebakte pere te sit nie.)
 
Dit laat my sommer terugverlang na my ouma Lettie se spens waar onder meer,  die ingelegde peerhalwes op die rak gestaan het.
 
‘n Laaste woordjie van my kant: As u nog ‘n granaat kan kry … breek hom oop,  geniet die rooi pitjies en die onthou van vroeë jare! Dit is kosbaar.
 
* Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in Radio Pretoria se tydskrif, Vasbyt (Herfs 2011)
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0