Categories: NewsPublished On: 6th July 2010

Uie: Hoekom hulle bol of nie bol nie!

By 5 min read
998 words

Daar is wel uie waarvan net die blare en blaarbasisse geëet word – nogtans is ’n ui sonder ’n bol nie ’n ui nie.

Hierdie gesogte groente het ’n ingewikkelde fisiologiese proses wat bolvorming aan die gang sit en handhaaf.
 
Hoe langer die bolvormings­tempo gehandhaaf kan word, hoe groter sal die ui volgens sy potensiaal ontwikkel.
 
Al wat ons moet doen is om die proses “aan te skakel” en dit toe te laat om voort te gaan… en te keer dat dit weer “afgeskakel” word.

Fisiologie: hoe werk dit?

Die begin van bolvorming word beskou as die stadium wanneer die deursnit van die bolgedeelte ongeveer twee keer die deursnit is van die blaargedeelte, net bokant die wit bolgedeelte. Dit is as gevolg van die vorming van skubblare in die blaaroksels in die bol, of toekomstige bol.

Vroeër is aanvaar dat hierdie “aanskakeling” (induksie) van die bolproses slegs die gevolg was van ’n minimum daglig­lengtebehoefte wat vir sekere variëteite gegeld het.

Later is vasgestel dat dit ook onderhewig is aan temperatuur­invloed waar hoër temperature vinniger bolinduksie en bolvorming laat plaasvind het.

Nog later is vasgestel ’n te hoë temperatuur (bokant 38 ̊C) kan weer bolvorming inhibeer en selfs “afskakel.”

Dit is ook vasgestel dat die hele proses van bolvorming gestuit kan word as uie vanuit ’n sekere minimum daglig­lengte na byvoorbeeld ’n baie korter dagliglengte oorgeplaas word.

Die rede hoekom dit gebeur is omdat die hele proses van bolinduksie deur die verhou­ding tussen die rooi (R) en verrooi (VR) gedeelte van die ligspektrum wat op die plant val, beheer word.

Wanneer die verhouding laer raak, word die plant “aangeskakel” om bolle te begin vorm. Die blare neem makliker die rooi lig op as die verrooi lig. As daar meer (genoeg) blare is, word die verhouding tussen die R en VR lig laer omdat minder rooi lig onder die blaredak deurkom. Dit sit bolvorming aan die gang.

Die verhouding tussen die blaaroppervlakte en die grond- oppervlakte word die blaaroppervlakte-indeks genoem.

Om te kan bol en die bolpro­ses oor ’n tydperk te handhaaf, is ’n spesifieke hoeveelheid daglig (R en VR lig) op die blaaroppervlakte plus die (hoë) temperatuur, oor ’n sekere tyd­perk vir ’n spesifieke variëteit nodig – dus geakkumuleerde lig en temperatuur.

As dit nie gebeur nie sal die uie eenvoudig net nie bolle vorm nie.

In die praktyk: Kan ons dit manipuleer?

Daar is drie faktore wat ’n rol speel: Die hoeveelheid geakkumuleerde daglig, die blaaroppervlakte ten opsigte van die grondoppervlakte en die temperatuur bokant ’n sekere minimum.

Enigiets wat dit beïnvloed sal ook die bolvorming al dan nie, van ’n spesifieke ui beïnvloed.

Ons moet dus die volgende doen:

  • Plant (saai) uie op die regte tyd. Sommige uie het net ’n sekere minimum ligtyd (R:VR) nodig om te bol. Daglengte word beïnvloed deur breedtegraad. Hoe verder vanaf die ewenaar, hoe langer word die dae. Uie wat meer lig nodig het, moet dus verder van die ewenaar af geplant word.
  • Enigiets wat blaaroppervlakte beïnvloed sal die bolvorming beïnvloed. Te klein blaaroppervlakte gee te min area om VR en R lig op te vang en dan skakel bolvorming nie aan nie. Dus, lae plantbevolking (plant verkieslik meer as 600 000 plante per hektaar), hael- of onkruiddoderskade in ’n vroeë stadium, swak bemesting, blaarsiekte en lae temperature kan laat bolvorming, en selfs geen bolvorming, tot gevolg hê.
  • Die saaidatum kan veroorsaak dat die uie ryp word voordat die vereiste blaaroppervlakte of bolgrootte bereik is, byvoorbeeld as uie met ’n baie lae lig- en temperatuurbehoefte in die middel van die somer geplant word. Hulle sal onmiddellik bolletjies vorm, maar nie groot genoeg word nie. Die reël is om baie vroeë uie, wat gewoonlik min lig benodig, later te saai en omgekeerd.
  • Soms kan daar wel bolvorming plaasvind al is die minimum lig nie beskikbaar nie, maar daar is genoeg hitte en goeie groeitoestande wat veroorsaak dat die blaaroppervlakte wat vereis word vinnig bereik en gehandhaaf word. Daar moet nooit stremmingsfaktore soos droogte, koue of voedings­tekorte in die eerste deel van die groei­siklus wees nie. Dit is veral belangrik as daar soms buite die spesifieke ligbehoeftetyd geplant word.

Keuse van variëteite: om op die regte tyd op die mark te wees
Die doel is altyd om die beste prys vir die produk te kry. Om dit te reg te kry, moet die regte ui vir die regte plantyd gekies word. Ongelukkig is dit gewoonlik wanneer daar baie uie van ’n sekere variëteit op die mark is, en dan is die pryse laag.

Baie boere probeer om nie net uie met ’n goeie houvermoë en gehalte te lewer nie, maar ook om deur manipulasie hulle uie te lewer wanneer die mark meer lonend is. Dis wanneer die variëteitkeuse so belangrik word. Kry genoeg inligting oor die varië­teit voordat jy plant en moenie kanse waag nie.

Soms kan uie met ’n baie vroeë intermediêre ligbehoefte wel met sukses in gebiede geplant word waar die plant sy potensiële blaaroppervlakte bereik en daar genoeg hitte is om bolvorming aan die gang te sit.

Variëteite beskikbaar vanaf KLEIN KAROO Saadbemar­king:
Capricio: benodig minder lig en laer hitte – moenie te vroeg plant nie.


 

Espresso: benodig meer lig, maar kan met hoër tempera­ture wel bolle vorm in toestan­de met minder lig.


 

Mondego: Benodig baie minder lig en bol baie vroeg in baie lae lig- en laer temperatuur­toestande. Moenie te vroeg plant nie.

 

0

Deel hierdie artikel.

One Comment

  1. Petrus van der vyver 17th December 2024 at 17:57 - Reply

    My uie wil nie groter as 10 mm in deursnee word in my tuin nie!!??
    Wat doen ek verkeerd?

Leave A Comment

0