Categories: NewsPublished On: 26th October 2011

Trou is nie perdekoop nie

By 8 min read

Aan Jannie

Piet Engels en daardie geleerde dogter van hom was gister weer hier. Sy het my ewe lag-lag vertel dat haar vader haar maar saamgebring het om die hekke vir hom oop te maak.

 
Of die ou iets wou kom koop, of tollies of osse gehad het wat hy aan my wou afsmeer, weet ek nie. Hy het die saak in alle geval nie aangeroer nie. Om die waarheid te sê, toe hulle weg is, het ek begin wonder of die dogter nie maar ou Piet saamgebring het om vir haar die leisels te hou nie.
 
Jou ma sê die meisiekind se hande staan vir niks verkeerd buie, wat ek ook verwag het, want ou Piet, met daardie op-stal-boerdery van hom, het dit nie so breed dat sy dogter haar hande nie uit die mou hoef te steek nie.
 
Toe ek haar laas gesien het, was die dogter nog maar ‘n kind, skraal en lank van been; maar gistermiddag toe sy hier voor in die blomtuin opgewek met jou ma staan en gesels, kon ek half verstaan hoekom jy saans so laat van die bioskoop af teruggekom het.
 
Daardie universiteitsnôi van jou ken ek nie. Sy kan miskien sommer baie gaaf wees. Maar ek twyfel of ‘n nôi wat aan bosse blomme van vyftien sjielings gewoond is, op die suiker en meel sal let wat in haar huis verbruik word, om nie eers te praat van die leë sakke bewaar en eendag op die dorp gaan verkoop nie.
 
Ou Saks was gisteraand hier. Hy het dokumente gebring vir my om te teken. Jou ma hou nie van die ou se sêgoed nie. Hy het mos ‘n tong soos ‘n tweesnydende swaard met ‘n heuningkwas daarby. Maar ou Saks ken die wêreld. Skoonheid gaan wel nie dieper as ‘n nôi se vel nie, maar die vel, sê die ou, is ook al wat ‘n man kan sien.
 
Daar klop menige goeie hart onder ‘n minder aantreklike vel, het jou ma probeer verduidelik. Ja, sê die ou. Maar as ‘n mens dertig, veertig jaar lank, jaar in en jaar uit, na dieselfde gesig moet kyk, moet hy darem ook iets vir die oog hê.
 
Hoe rooier, hoe mooier, sê hulle. Van ‘n Afrikanerbees gesê, ja. Maar hoe rooier ‘n nôi se lippe, hoe gevaarliker; hoe langer haar vingernaels, hoe minder skottelgoed was sy. Die mooiste rooi op ‘n nôi se wange en op haar lippe is tog maar die rooi wat die gesondheid self daar verf.
 
‘n Modepoppie is mooi; mooi in die flou liggie van die opsitkers, maar glad nie so mooi in die skerp lig van die werklikheid nie. As ‘n man handjie-handjie wil speel, moet hy liewer met ‘n handjie speel wat nie vir werk verkeerd staan nie.
 
Dis mooi as ‘n man se vrou klavier kan speel. Maar ‘n man kan desnoods sonder musiek klaarkom. So nie, kan hy vir hom ‘n grammafoon aanskaf. Dié speel self. Maar ‘n huisgesin kan nie sonder vleis klaarkom nie, en daar is glo nog nie ‘n masjien te koop wat ‘n slagding self bewerk nie.
 
Ek het al van mans gehoor wat eintlik mooi is van lelikheid, maar nog nooit van so ‘n vrou nie.
 
Ek wil nie beweer dat nôiens almal leliker word namate hulle ouer word nie, want selfs onder verse wat na niks lyk as hulle jonk is, kry ‘n man af en toe ‘n enkele wat sommer ‘n pragtige koei word. Die ding se vel moet net los wees en die oë sag.
 
Tog is daar baie meer dogters wat mooi is as vrouens wat mooi is. Al die goedjies is mos mooi as hule klein is; tot varkies en donkievulletjies. Maar versies word almal koeie en selfs die pragtigste ou dingetjie met die sierlikste ou koppie het miskien ‘n holrug of ‘n hanglip as sy die dag ‘n koei is.
 
Vet is ‘n mooi kleur, sê die boere. Van beeste gesê, ongetwyfeld. Tot ‘n bruingeelbek blink as die ding die dag vet is.
 
By die vendusiekrale hoor ‘n man nooit van te vet nie. Maar by die slagwinkels word darem af en toe gekla van vleis wat te vet is. Wat my betref, liewer te vet as te maer. ‘n Maer vrou lyk alteveel of haar man haar mishandel.
 
As ‘n man ‘n Afrikanerbees wil koop, moet jy die ding oordeel voordat hy tien dae oud is. So nie, dan nie voordat hy ál sy tande het nie. Tussenin is ‘n Afrikaner maar bedrieglik en koop ‘n boer hom maklik vas.
 
Hulle sê by ‘n meisiekind se geboorte kan ‘n man ook aan die gerimpelde ou gesiggie sien na wie sy aard en hoe sy gaan lyk as sy eendag groot is.
 
Maar trou is nie beestekoop nie. ‘n Man kry nie bra kans om vir jou ‘n vrou onder die tien-dae-oud-klompie uit te soek nie, en as jy wag totdat hulle volbek is, het die ander kêrels al klaar die mooistes onder die klomp uitgekeer.
 
As ek hier op die plaas waar al die beeste rooi is, in die kalwerhok instap, weet ek self nie altyd watter kalf watter koei s’n is nie. Die goed lyk mos nie na hulle moeders nie. Maar selfs ‘n wildvreemde, as hy maar beeste ken, kan in die koeikraal instap en sê: “Hierdie twee koeie is mos susters, nie waar nie? En hulle is geteel uit daardie ou koei wat daar agter in die hoek staan, of hoe?”
 
So gaan dit ook met kinders. Daarom dat mense sê ‘n kêrel moenie na die noi kyk nie: hy moet na die moeder kyk.
 
Party sê weer hy moenie na die nôi kyk nie, maar na die familie. Sy dogters sal na sy eie moeder terugslaan; sy seuns na sy vrou se familie. Wat nou eintlik oorerflik is en van wie, is vir my ‘n duistere saak. Al ding waaroor al die ouers wat ek nog teëgekom het ooreenstem, is dat dié gedeelte van hulle kroos wat lui is of dom is of enige ongewenste karaktertrekke hoegenaamd aan die dag lê, tog nie na vader of moeder aard nie.
 
By die oumense was jonk-trou daar by die sestien-sewentien jaar se kant, en te-jonk ‘n hele entjie jonger. Kalwertrou is miskien onverstandig. Maar ‘n man moet darem ook nie te lank wag nie. As hy wag totdat hy sy volle verstand het, trou hy miskien glad nie; en by ‘n oujongkêrel is versigtigheid en selfsugtigheid nie altyd van mekaar te onderskei nie.
 
Soort soek soort. Maar dat ‘n man en sy vrou ewe fluks of ewe lui behoort te wees, ewe slim of ewe dom, is by my nog lank nie ‘n uitgemaakte saak nie.
 
‘n Boer span wel twee osse wat eners lyk en ewe sterk is, teen mekaar; maar of dit nou vir die osse die lekkerste trek is, twyfel ek. As twee voorosse wat ewe sterk is, mekaar te kwaai teen die juk opkeil, het hulle naderhand ‘n koggelstok nodig. Twee agterosse wat ewe lui is, kul weer mekaar as die wa die dag vasval. Maar as die een os maar vir die ander te sterk is, kan ‘n man altyd ‘n plan maak; ‘n dubbelkram-juk gebruik en die een se trens effens korter maak as die ander een s’n. Dan trek die twee mooi gelyk en tog nie teen mekaar nie.
 
Of die vrou die voortou moet neem; of sy die broek moet dra, is ‘n ander saak. Maar dis snaaks in hierdie ou wêreld: die mans stoot die laaste een bors uit en verseker jou dat hulle baas is, en tog is daar maar min van hulle wat nie rekenskap moet gee as hulle die aand laat huis toe kom nie.
 
Hulle sê ‘n man moet eers ‘n sak sout met ‘n vrou saam opeet voordat hy haar ken. Ek twyfel of ‘n man ooit ‘n vroumens kan verstaan. In alle geval, ‘n jongkêrel wat maar ‘n dosie sjokolade met ‘n nôi in die bioskoop leeggemaak het, ken die nôi glad nie.
 
Trou is nie perdekoop nie. Perdekoop is ‘n heel entjie minder gevaarlik. En tog gaan ‘n boer wat die wêreld ken, baie versigtig te werk as hy die dag met ‘n perdekoper deurmekaar raak. Die perd word gevang en die bek word oopgemaak. Daar word na die stempels gekyk; aan die tande gevoel. Die pote word een vir een opgetel; die hoewe en die litte kom aan die beurt. As hy self dan nog geen fout raakgesien het nie en nog nie weet waarom die ander die perd wil verkoop nie, laat hy die perd inspan en ry self ‘n ent om te kyk of die ding nie dalk ‘n taai bek het of flou word, of skrik of met die kar op loop sit nie.
 
Trou is nie perdekoop nie. Trou is sommer baie gevaarliker. En tog, as ‘n nôi maar ‘n mooi gesiggie het, mooi oë of ‘n mooi stel tande, kry sy sonder meer ‘n man.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0