Categories: NewsPublished On: 6th February 2012

Tronkstraf-vir-onwillige-boere

By 2 min read

Volgens ‘n nuwe klousule wat die arbeidsportefeuljekomitee voor die parlement wil bring, kan boere in die tronk beland as hulle nie voldoen aan die arbeidswet se vereistes nie. Die straf vir die nie-nakoming van bepalings en regulasies kan strafregtelike vervolging insluit.

 

Die geskil oor arbeid op plase duur voort na aantygings dat boere hulle plaaswerkers swak behandel. Mnr Elleck Nahabeleng, ANC-voorsitter van die portefeuljekomitee oor arbeid, het vroeër 21 plase in die Wes-Kaap besoek waarna hy aantygings gemaak het dat sowat 10% van boere gehoor gee aan wetgewing aangaande plaaswerkers.

 

Die Demokratiese Alliansie (DA) se woordvoerder, Ian Ollis, wat die besoeke meegemaak het, het die verslag verwerp en gesê dat die situasie nie so sleg is was wat mnr Nchabeleng dit maak nie.

Volgens mnr Ollis het slegs 2 van die 21 plase nie aan die vereistes voldoen nie en dat hulle vervolg moet word. Hy sê dat mnr Nchabeleng se opmerking dat minder as 10% aan die vereistes voldoen dus totaal ongegrond en vals is.

Op ’n mediakonferensie by die parlement het mnr Nchabeleng gesê die komitee wil oortredings kriminaliseer.

Mnr Nchabeleng het aan Rapport gesê die presiese strawwe sal deur openbare verhore en die beraadslagingsproses vasgestel word. Dit kan boetes of tronkstraf insluit, afhangende van die oortreding. 

 

“Die nuwe arbeidswetgewing móét eenvoudig strenger wees en meer magte aan arbeidsinspekteurs gee. Ons het die kwessie al in die ANC bespreek en die gevoel is dat boere wat nie hul kant bring nie, vervolg moet word,” het hy gesê.

 

Mnr Nchabeleng beweer dat hoewel die boere gewillig is om die omstandighede van werkers te verbeter, daar steeds groot struikelblokke is. Veral behuising bly ‘n groot kommer. Daarby pas die meerderheid van plase nie ordentlike veiligheidsregulasies toe nie en werkers word dikwels bloot gestel aan skadelike gifstowwe. Verder verdien plaaswerkers steeds minder as die minimunlone en geniet nie verpligte voordele soos siekverlof of vakansie nie.

 

Inspekteurs van die Arbeidsdepartement gaan binne die volgende twee maande opvolgbesoeke doen om toe te sien dat die situasie reggestel is.

Die arbeidsituasie was vroeër ook in die kollig na ‘n verslag deur die Human Rights Watch verlede jaar oor die omstandighede van plaaswerkers op Kaapse vrugte- en wynplase. Georganiseerde landbou het hierdie verslag verwerp as eensydig, kwaadwillig, onregverdig, en hoogs onverantwoordelik. 





 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0