Tribunaal sê aikona aan Pannar en Pioneer Hi-Bred
Die Mededingingstribunaal het die samesmelting van die twee multi-nasionale saadmaatskappy Pioneer Hi-Bred, ‘n filiaal van DuPont en Suid-Afrika se grootste saadmaatskappy, Pannar Saad, verbied.
In ‘n gesamentlike verklaring het die twee maatskappye hulle teleurstelling dat goedkeuring geweier is dat Pioneer ’n meerderheidsaandeel in Pannar bekom uitgespreek.
“Ons sal die besonderhede van die besluit bestudeer en dan op toekomstige optrede besluit” het hulle gesê.
Die samesmelting is reeds in Desember 2010 deur die Mededingingskommissie verbied waarna die saadmaatskappye die kommissie se besluit na die Mededingingstribunaal verwys het vir heroorweging. Na ‘n drie-week-lange verhoor het die tribunaal besluit om weer-eens die samesmelting te verbied. Die redes vir die besluit is nog nie bekend gemaak nie.
In ‘n verklaring het die African Centre for Biosafety (ACB) die verbod verwelkom. Nie-regerings-organisasies is deur die Mededingingskommissie en die Mededingingstribunaal toegelaat om in “openbare belang” tot die saak toe te tree.
Volgens Mariam Maye, direkteur van die ACB is die verbod ‘n oorwinning vir klein boere in Suid-Afrika en vir almal wat ‘n meer regverdige voedselstelsel bepleit.
“Die Tribunaal se besluit gee ons weer ruimte om asem te haal sodat ‘n geskikte saad-stelsel vir Suid-Afrika ontwikkel kan word, afgestem op die behoeftes van hulpbron-arm boere, eerder as dié van multi-nasionale maatskappye wat winste najaag" het sy gesê.
Pioneer Hi-Bred en Pannar Saad het op hul beurt gesê die samesmelting sal groot voordele inhou vir baie mense.
“Ons glo nog steeds dat hierdie transaksie in die beste belang van albei maatskappye, hulle werknemers en hulle kliënte in Suid-Afrika en dwarsdeur Afrika is,” het die maatskappye in hulle verklaring gesê.