Trekkeroes lyk goed
Daar is amper 50% meer trekkers in Mei vanjaar as verlede jaar verkoop. Die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie sê trekkerverkope van 449 eenhede in Mei, is byna 49% meer as die 299 eenhede wat verlede Mei verkoop is.
Vir die jaar tot dusver, is trekkerverkope byna 22% hoër as verkope vir die eerste vyf maande verlede jaar. Stroperverkope van 33 eenhede in Mei is byna 38% hoër as die 24 eenhede wat in Mei verlede jaar verkoop is. Vir die jaar tot dusver, is stroperverkope van 124 eenhede byna 9% meer as stroperverkope vir die eerste vyf maande van verlede jaar.
Dit is die sewende opeenvolgende maand wat verkope hoër is as verlede jaar. Die voorsitter van SAAMA, Lane Reynolds sê dit weerspieël die volgehoue optimisme in die mark vir landboumasjinerie. Hy sê fundamentele aspekte in die bedryf, soos goeie kommoditeitspryse, goeie verwagte someroeste, relatiewe maklike finansiering en die aantreklike pryse vir nuwe toerusting op grond van die volgehoue sterk rand, bly gunstig. Sekere boere met groter vlote, benut ook die geleentheid om vlote te vervang. Met die onlangse reën in baie gebiede, lyk die vooruitsigte vir die aanplant van koring ook goed.
Volgens ramings in die bedryf, behoort trekkerverkope vir die 2011-kalenderjaar, tussen 5 600 en 5 900 eenhede te wees, sowat 10% tot 15% hoër as verkope in 2010.