Categories: NewsPublished On: 13th December 2011

Trekkermark steeds goed

By 1 min read

Byna 32% meer trekkers is in November vanjaar verkoop teenoor dieselfde maand verlede jaar. Die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-vereniging sê daar is 605 eenhede teenoor die 459 eenhede van verlede November verkoop.

Vir die jaar tot dusver, is trekkerverkope byna 44% hoër as verkope vir die eerste elf maande verlede jaar. Stroperverkope van 17 eenhede in November is aansienlik meer as die 8 eenhede wat verlede November verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope van 256 eenhede 47% hoër as verkope vir die eerste elf maande van verlede jaar.

Vir die dertiende opeenvolgende maand, sedert November verlede jaar, is trekkerverkope vir die maand hoër as vir die ooreenstemmende maand verlede jaar.   

Die voorsitter van SAAME, mnr Lane Reynolds sê dit weerspieël die volgehoue optimisme in die mark vir landboumasjinerie. Die skerp daling in die waarde van die rand sal lei tot prysverhogings in die afsienbare toekoms en dit het beteken dat baie boere vroeër besluite geneem het oor aankope. Volgehoue vooruitsigte vir kommoditeitspryse, veral mieliepryse, lyk goed. Boere in sekere gebiede waar somergewasse aangeplant word, veral in die oostelike dele van die land, wag egter nog op reën voordat aanplantings in alle erns kan begin. Vooruitsigte vir die komende koringoes lyk goed.

Volgens ramings in die bedryf sal trekkerverkope vir die 2011-kalenderjaar sowat 7 300 en 7 400 eenhede wees, ongeveer 40% meer as verkope in 2010.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0