Trekkerlopie-duur-voort
Trekkerverkopers kan breed glimlag want die verkope van 625 eenhede in Junie is byna 66% meer as die 377 eenhede wat verlede Junie verkoop is. Vir die jaar tot dusver, is trekkerverkope byna 29% meer as verkope vir die eerste ses maande verlede jaar. Stroperverkope van 21 eenhede in Junie is 31% meer as die 16 eenhede wat in Junie verlede jaar verkoop is. As verkope vir die jaar tot dusver vergelyk word met verkope vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, is stroperverkope van 145 eenhede byna 12% hoër as verkope vir die eerste ses maande van verlede jaar.
Dit is die agtste opeenvolgende maand wat trekkerverkope vergeleke met dieselfde maand van verlede jaar hoër is. Mnr Lane Reynolds, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie sê dit weerspieël die volgehoue optimisme in die mark vir landboumasjinerie. Hy sê vooruitsigte vir kommoditeitspryse, veral mieliepryse, lyk goed. Volgens aanduidings is die plaaslike graanvoorraad aansienlik verlaag, hoofsaaklik weens meer uitvoere. Vooruitsigte vir die komende koringoes lyk ook goed. Dit is ook makliker en vinniger om krediet te vergroot by banke en krediet is meer geredelik beskikbaar as ’n jaar gelede. Pryse vir toerusting bly ook uiters mededingend weens die volgehoue sterk rand.
Ramings vir trekkerverkope vir die 2011-kalenderjaar is opwaarts aangepas tot tussen 6 200 en 6 400 eenhede, ongeveer 20 tot 25% hoër as verkope in 2010.