Toyota-vier-vyftig-jaar-in-SA-met-spesiale-Hilux,-Corolla-en-Fortuner
‘n Beperkte spesiale erfenismodel van die trots Suid-Afrikaanse Hilux-bakkie gaan deur Toyota ter viering van sy geskiedkundige vyftigste bestaansjaar in Suid-Afrika vervaardig word. Toyota sal ook ‘n erfenismodel vir die Corolla en Fortuner vervaardig.
Die Heritage-modelle bied bo en behalwe dit waarmee hulle stalmaats pronk meer weelde en binneruimtoerusting, maar sonder om ’n gat in jou sak te ruk – trouens, een van die sterkste verkoopspunte van hierdie modelle is juis die dat hulle goeie waarde bied.
Die Heritage-behandeling vir die Hilux Raider-dubbelkajuit (handrat en outomaties) sluit in ’n nerfstamper en bypassende kanttrappies van vlekvrye staal, trekstang, 17”-allooisierwiele, leersitplekke met bypassende leer-deurpanele, ’n geweefde matstel en ’n trurat-parkeerkamera.
Enige van drie enjins dryf die Hilux Heritage-weergawes aan – die 2.7 VVT-i met verrigtingsyfers van 118 kW teen 5 200 r/min en 241 Nm teen 3 800 r/min; die 3.0 D-4D wat 120 kW teen 3 400 r/min lewer en 343 Nm teen 1 400-3 200 r/min ontwikkel; en die 4.0 V6 met 175 kW teen 5 200 r/min en 376 Nm teen 3 800 r/min onder die regtervoet.
Buiten die standaardtoerusting van die gewone Corolla 1.3 en 1.6 Advanced kry die Heritage-model Toyota Corolla – wat in óf die 74 kW Optimal Drive 1.3- of 90 kW 1.6-gewaad beskikbaar is – ’n tweekleurige voorpaneel, “Heritage Edition”-kentekens, en geweefde matstelle. Dit rond die hoë binneruimspesifikasie af wat reeds Optitron-instrumente, ’n kragtige klankstelsel met USB-, Bluetooth- en iPod-verbinding, stuurkolomkontroles, elektries beheerde vensters, afstand beheerde sentrale sluiting, en 16”-allooisierwiele insluit.
Die Fortuner 3.0 D-4D (120 kW teen 3 400 r/min en 343 Nm teen 1 400-3 200 r/min) en die 4.0 V6 (175 kW teen 5 200 r/min en 376 Nm teen 3 800 r/min) in die hoëromp- en vierwielaangedrewe weergawes is die volgende modelle wat munt uit die Heritage Edition-behandeling slaan. Hulle bykomstighede sluit in ’n nerfstamper en bypassende kanttrappies van vlekvrye staal, ’n trekstang, spesifieke Heritage Edition 17”-allooisierwiele, Heritage-kentekens en ’n geweefde matstel (leerbekleedsel is deel van die hele Fortuner-reeks se standaard-toerusting.) Hierdie verbeterings vul die Fortuner met sy nuwe voorkoms en herontwerpte voor- en agterkante netjies aan, en die treffendste hiervan is die nuwe buffers, sierrooster, kopligte, stertligte, kleurgepaste buite-truspieëls met ingeboude flikkerligte, dakspore en ’n agterste drukvlerk met ’n ingeboude derde remlig.
Kerry Roodt, Toyota Suid-Afrika se hoofbestuurder van bemarkingskommunikasie, sê die Heritage-weergawes sal met hulle fokus op styl, tegnologie en gemak net nog ’n bietjie glans by Toyota se getroue plaaslik vervaardigde modelle voeg. “Die feit dat hulle behoorlike waarde vir geld bied en Toyota se vyftigste bestaansjaar in Suid-Afrika op paslike wyse vier, is ’n bonus” het hy gesê.