Toyota spog met sy nuwe FJ Cruiser
Een van die lekkerste Land Cruisers tot nou toe, die nuwe FJ Cruiser, het sy verskyning verlede week op Nampo gemaak.
Die nuwe FJ Cruiser is toegerus met ’n 4 liter V6-petrolenjin. Hy het ’n geharde 4×4-dryfstelsel wat beloof om dieselfde veldryvermoë te bied as die ander Land Cruisers.
Wat dié Cruiser egter anders maak is sy sogenaamde “retro”-stilering wat hom na sy FJ-voorsate laat trek.
“Met sy retro-stilering is die FJ Cruiser ’n baie gepaste toevoeging tot die Land Cruiser-reeks het dr Johan van Zyl, president en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika gesê. “Sy stilering herinner aan die oorspronklike Land Cruiser modelle, en ons glo dat dit aan ons ekstra dryfkrag gaan verskaf in die jaar waarin ons die 60ste herdenking van die eerste Land Cruiser-modelle vier” het hy gesê.
Boere wat die Toyota-stalletjie besoek het kon die hele Land Cruisers-reeks gade slaan. Die mees treffende weergawes by die skou was sekerlik die nuwe Land Cruiser “60th Edition”-weergawes van die 76 Station Wagon en die 79 Pick-up. Hierdie Cruisers is dadelik herkenbaar aan hulle eie soortige kleur van buite, en die rits kosmetiese toevoegings en luukshede van die binne.
Die FJ Cruiser-sportnutsvoertuig, met sy bekwame 4×4-vermoë, sal in Augustus vanjaar te koop aangebied word.