Categories: NewsPublished On: 5th July 2011

Toename-in-katoenoes-bevestig

By 1 min read

Die sesde skatting vir vanjaar se katoenproduksie bevestig dat dit die grootste oes in jare gaan wees. Daar was ‘n 3% afwaartse aanpassing op die vorige skatting, maar die oes is steeds 116% meer as verlede jaar. ‘n Totale katoenoes van 91 508 bale word verwag. Dit is die eerste toename in plaaslike katoenproduksie in 7 jaar.

Na  skatting  sal  87 508 bale vesel geproduseer word van RSA geproduseerde katoenpluksel, ’n toename van 127% teenoor die vorige seisoen. Die balans van 4 000 bale vesel het  betrekking op verwagte Swaziland geproduseerde katoen wat deur die Swaziland pluismeule gepluis sal word.

Internasionale katoennuus is dat die International Cotton Advisory Committee (ICAC)  wêreldkatoenpryse van $1.64/lb vir 2010/11 verwag. Dit is 112% hoër as die van die vorige seisoen en ook aansienlik hoër as die 10-jaar gemiddeld van 60 VSA c/lb (2000/01 tot 2009/10). Die ICAC verwag dat die A-indeks heelwat sal afneem in 2011/12 namate die toename in wêreldkatoenvoorrade minder wisselvalligheid en meer vertroue na die markplek bring. Die gemiddelde A-indeks vir 2011/12 behoort egter bokant die 10-jaar gemiddelde syfer te eindig.

Die ICAC raam dat wêreldkatoenproduksie in 2011/12 met 11% sal toeneem tot ’n nuwe rekordvlak van 27,4 miljoen ton aangevuur deur die hoë katoenpryse wat boere in 2010/11 ontvang het. ’n Toename in produksie word in die meeste van die katoenproduserende lande verwag met rekordoeste wat vir Indië, Brasilië en Australië voorsien word. Ten spyte van ’n aansienlike toename in VSA-aanplantings sal die baie droë toestande in Texas verantwoordelik wees vir ’n 2% afname in Amerikaanse katoenproduksie in 2011/12.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0