TLU-SA-vra:-Kondoneer-Zuma-plaasmoorde?
TLU SA het ‘n verband getrek tussen uitsprake van die ANC-Jeugleier, Julius Malema, en die moord op ‘n boer by Ottosdal. Mnr Ben Marais, president van TLU SA sê die moord het plaasgevind kort na Malema verklaar het dat boere afstand moet doen van 80% van hul grond omdat hulle dan nie meer aangeval sal word nie. Die organisasie eis dat die jeugleier gerepudieer word. “Dit het by die punt gekom dat mnr Zuma nou sal moet besluit of hy gaan praat of stilbly,” sê mnr Marais.
Mnr André van der Merwe is die afgelope naweek vermoor en meer as ’n kilometer ver agter sy bakkie aangesleep. Die slepery het eers gestop toe die bakkie omgeslaan het.
Drie mans is reeds in verband met die moord in hegtenis geneem, waarvan een in die omgeslaande bakkie gevind is.
Mnr Marais sê: “Hierdie aanvalle is deur Malema direk verbind daaraan om grond te bekom. As ‘n leiersfiguur binne die ANC kan dit nie anders beskou word nie dat dit dus die ANC se beleid is. Mnr Zuma moet weet dat sy stilswye die Malema uitspraak-kondoneer. Die hele wêreld sal dan besef dat dit die ANC se beleid is om boere te vermoor ten einde hul grond te bekom,” sê mnr Marais.
Mnr Pieter Groenewald, leier van die VF+ in Noordwes, het vroeër in ’n verklaring gesê die wrede moord op Van der Merwe is “niks meer as rassisme nie”. Hy sê: “Die regering en die minister van polisie is laks om op te tree teen plaasaanvallers en die landelike beveiligingsplan bestaan slegs in teorie, maar nie in die praktyk nie.”