Thabazimbi-hou-lekker-skou
Die Thabazimbi-skou het vanjaar uit sy nate gebars met ‘n groot getal uitstallers, besoekers en baie bedrywighede. Dit is ‘n landbouskou in die ware sin van die woord en die wildveiling, asook die Brahman-veiling wat onder die beskerming van die Brahman Genootskap plaasgevind het, het goeie aftrek gekry.
‘n Hele aantal beesrasse, onder andere die Brahmane, Simmentalers en Hugenote is beoordeel en daar was ook ‘n interrasskompetisie. Meer as 200 Brahmane was by die skou.
Die wildveiling is goed bygewoon en die verkopers is oor die algemeen tevrede met die pryse wat behaal is, hoewel daar geen rekordpryse was nie.
Vir die eerste keer in jare was daar ook ‘n pluimvee- en sierduif-afdeling en dit het sommer groot aftrek gekry.
Die meeste van die groot landboumaatskappye stal jaarliks by die skou uit en daar was ook ‘n hele verskeidenheid voertuie te sien.
Daar was ook heelwat vermaak en ander bedrywighede soos die kroning van Mej Thabazimbi, ‘n sangtalentkompetisie, optredes deur kunstenaars soos Ray Dylan, ‘n rodeo, ‘n hondevertoning, poppekas vir die kinders, ‘n potjiekoskompetisie, grootskerm-rugby en ‘n mallemeule.