Swellendammers hou skou
Die oudste landbouskou in die land word van Donderdag tot Saterdag op Swellendam gehou. Dit is die 148ste keer dat die skou deur die Swellendam Landbougenootskap aangebied word.
Die Landbougenootskap self het ook ‘n trotse geskiedenis wat strek van Maart 1832 toe dit deur FW Reitz gestig is. Francis William Reitz kan as die vader van wetenskaplike landboumetodes aan die Kaap beskou word. Hy het na sy studies in Skotland ’n groot landbou toer deur Europa onderneem. Hy het onder andere die Pruisiese koninklike stalle in Dresden besoek, merino kuddes in Nantes en Saxony asook die Italiaanse besproeiingstelsels gaan bekyk. Sy sienings en insigte het rewolusionêre veranderings tot gevolg gehad reg deur landbou in Suid-Afrika gedurende die 1800`s. Sy seun, ook FW Reitz was later die 5de President van die Vrystaatse Republiek. Tydens die Tweede Vryheids oorlog het die totale versameling dokumente en boeke van FW Reitz (sr) in Britse hande geval en het dit verlore geraak.
Gelukkig het die landboutradisie wat hy gevestig het, bly staan en beloof hierdie jaar se Swellendamskou om iets besonders te wees. Die leuse is: “Terug na landbou”. Twee van die nuwe hoogtepunte wat vanjaar aangebied word, is die Suid-Kaap Vlaamperd Kampioenskap en die Wes-Kaap Simmentaler kampioenskap. Daar is ook ‘n Jersey-skou en verskeie ander bees- en skaaprasse word uitgestal en beoordeel. Die MPO plaaswerf is ook ingerig om die kinders besig te hou.
Op die program is daar interessante items soos ‘n skaaphondvertoning, ‘n jeugskou met melkbokke, skattejag, ‘n troeteldierwedstryd en optredes deur verskeie kunstenaars.
Besoek gerus www.swellendamskou.co.za vir meer inligting.