Suksesvolle kleinveesuiwelforum gehou
Die Suider-Afrikaanse Bok- en Skaapmelkverwerkers-organisasie het ‘n suksesvolle kleinveesuiwelinligtingsforum vir die telers van melkbokke en –skape gehou. Die geleentheid, wat goed bygewoon is, het op 5 en 6 Oktober by die Landbounavorsingsraad te Irene, Pretoria plaasgevind en is gekenmerk deur positiewe interaksie tussen deelnemers. Dit was ‘n goeie geleentheid vir boere, verskaffers en ander kundiges om met mekaar te gesels.
Aanbiedings is gemaak oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe soos grootpens-gesondheid, uiergesondheid, melkaantekeninge, die higiëniese hantering van melk en verwerkte produkte en die voer van melkbokke. Die gesprek deur Leon Kruger van die LNR oor die hantering van bokke en skape om stres te verminder, is goed ontvang. Hy sê daar is ‘n rede waarom die Bybel van skaapwagters praat; hulle is baie meer as net hanteerders van skape.
Mnr Danie Schutte, voorsitter MPO Gauteng het afgevaardigdes toegelig oor die MPO se ondersteuning en dienste aan alle melkprodusente.
Mev Rina Belcher, organiseerder van die geleentheid, het haar tevredenheid uitgespreek oor die gehalte van die aanbiedings wat vir beginner- en ervare boere waardevol was.