Suidwes-Groep-kry-nuwe-besturende-direkteur
Die nuwe besturende direkteur vir die Suidwes Groep is mnr Louis Smit. Mnr Smit volg mnr Schalk Pienaar, wat 31 Januarie 2012 na dertien se diens jaar aftree, op.
Mnr Smit het sy loopbaan in die landbousektor in 1982 aan die Universiteit van die Vrystaat begin waar hy BSc Landbou gestudeer het. Hy het ‘n BSc Honneurs in Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en ‘n MBA aan die Noordwes-Universiteit.
Gedurende sy 29 jaar in die landboubedryf het hy verskeie posisies as landbou-ekonoom, en in die kommersiële- en bemarkingsafdelings van verskillende organisasies beklee. Hy het ook op verskeie direksies van landbouverwante organisasies gedien.
Sy aanstelling kom nadat die Suidwes Groep gemengde finansiële welslae behaal het. Die groep het vir 2010/2011 ’n swakker resultaat as in die vorige jaar behaal .
Mnr Schalk Pienaar het in sy bestuurende direkteursverslag gesê moeilike handelsomstandighede en die laer vlakke van graanpryse as die vorige jare was hoofsaaklik verantwoordelik daarvoor dat produsente se aankoopspatrone laer geneig het. Grootskaalse aankope wat tradisioneel in Februarie plaasvind, het grootliks nie gematerialiseer nie.
Suidwes Fin het soos die vorige finansiële jare, wins gewys. Suidwes se meganisasie-been het ’n verbetering getoon met ’n kleiner as verwagte verlies.
Die groep kon egter steeds ’n beduidende wins van R64.816 miljoen behaal, wat sowat 17.2% laer was as die R78.261 miljoen van 2010.
Mnr Pienaar het gesê, gesien in die lig van algemene besigheidsomstandighede kon die resultaat egter veel swakker gewees het en dit is verblydend dat Suidwes tot ’n belangrike mate daarin kon slaag om sy markaandeel in stand te hou.