Suid-Afrika sit met 'n moraliteitsprobleem.
Agri-SA se president, mnr Johannes Möller, het hom onlangs sterk uitgespreek teen die nimmereindigende misdaadprobleem wat die land in ’n ystergreep beet het.
’n Belangrike punt wat hy uitgelig het, is dat ons nie onderontwikkeling en armoede as regverdiging kan aanvoer vir die miskenning van die reg en die hoë misdaadvlakke nie. Misdaad lewer geen oplossing vir bogenoemde probleme nie en moet op alle vlakke as sodanig hanteer word.
“Misplaaste eiegeregtigheid, gierigheid asook ‘n gebrek aan respek vir lewe en eiendom, is simptome van die morele verval wat Suid-Afrika as ontwikkelende ekonomie en demokrasie tans beleef en groot skade berokken. Dit skep ‘n persepsie-probleem wat verdiep terwyl die breër wêreldwye ekonomiese klimaat dit reeds vir Suid-Afrika moeilik maak om hom in die internasionale belegging- en geldmark te handhaaf. Dit is egter hoofsaaklik Suid-Afrika se interne probleme, waarvan die miskenning van die reg en misdaad belangrike elemente is, wat die grootste beperking op sy ekonomiese groei plaas, ook volgens die jongste bevindings van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling,” het hy gesê.
Terwyl dié moraliteitsprobleem volgens Moller algemeen in die samelewing en op alle vlakke voorkom, betreur Agri SA verskeie onlangse voorvalle waar boere wreed vermoor is en skade aan eiendom en growwe inbreuk op eiendomsreg op ‘n plaas in KwaZulu-Natal gemaak het. Die aanval die afgelope naweek op ‘n bejaarde, Vrystaatse boer onderstreep die erns van die probleem. “Ons simpatie en meegevoel gaan uit aan diegene wat naasbestaandes verloor of verliese gely het,” sê mnr Möller.
Mnr Möller voel sterk daaroor dat goeie regering op alle vlakke, wat die toepassing en handhawing van wet en orde insluit, die voorkeuropsie moet wees wat met toewyding uitgeleef word. Op dié wyse kan daar meer en gelyke geleenthede vir Suid-Afrika se mense ontsluit word.
“Daar moet verstaan word dat landbouhulpbronne beperk is en dat ontwikkeling en respek vir lewe en eiendom twee kante van dieselfde munt is,” het mnr Möller bygevoeg.