Categories: NewsPublished On: 7th September 2010

Stop-haasbekgate-sonder-sukkel-toe-met-’n-handmielieplanter

By 1 min read
285 words

Haasbekrye vreet die mielieboer se wins. Elke haasbekplek vreet net soveel produksiekoste as waar daar plante staan, maar bring vir die boer niks in die sak nie.

Selfs met die beste presisieplanters kan daar kaal kolle in ’n ry wees. Dit kan ’n pit wees wat nie wou ontkiem nie, windskade, of honger springhaasrotte of tarentale.

Red jou rug

Hoe ook al, die gat moet toegestop word en tot dusver was dit ‘n geval van buk, sweet en sukkel. ‘n Boerseun van Bultfontein, Michris Janse van Rensburg, los die probleem op met sy ligte handplanter. Die grootste voordeel van die handplanter, sê Michris, is dat hy in die middag nog net so vinnig soos in die oggend werk, want sy rug word nie seer nie! Dis hoekom hy die Backsaver heet.

Die planter hou sowat 3 koppies saad, wat sowat ‘n uur se planttyd gee voor dit hervul moet word. In klam grond plaas die planter die pitte almal ewe diep, wat beter opkoms verseker.

Arbeiders hoef nie aan die pitte te raak nie, sodat gifbehandelde pitte veilig geplant kan word.

Nampo jongboer-toekenning

Michris se slim ontwerp het hom die jongboer-toekenning by Nampo Oesdag se boerepatent-wedstryd besorg.

Michris reken as ‘n boer arbeidskoste in berekening bring, betaal die Backsaver homself binne ’n dag. Teen R650 (BTW uitgesluit) maak dit sin vir ‘n boer om een vir elke 200 hektaar mielies te koop.

Michris het al heelwat planne gemaakom boerdery makliker te maak, maar hy wil nie regtig in die toerustingbedryf ingaan nie: “Nee wat, ons plant maar. Dis mos in die bloed.”

Skakel Michris Janse van Rensburg by 051-853-2876 of 073-454-4111 of stuur ‘n e-pos aan mooiuitsigboerdery@telkomsa.net.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0