Stedelinge draai hul rug op Malema
Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier, se gewildheid het sedert 2009 aansienlik afgeneem.
Nuus24 berig dat die jongste peiling wat deur TNS Research Surveys gedoen is, die afname bevestig. In die peiling is 2 000 stedelinge in Suid-Afrika gevra wat hulle mening oor politieke leiers is.
In 2009 het 27% van die stedelinge wat ondervra is, aangedui het dat hulle die jeugleier steun, maar in 2010 het sy gewildheid tot 21% afgeneem en nou is dit net 17%.
20% van die manlike respondente het gesê hulle steun Malema, teenoor net 15% vroue.
26% van die swart bevolking steun hom, terwyl net 2% wit mense, 4% bruin mense en 0% Indiërs of Asiate hom steun, blyk uit die peiling. 35% van swart stedelinge tussen 18 en 24 jaar oud steun Malema, terwyl 56% sê hulle steun hom nié.
75% van swart stedelinge ouer as 40 steun hom nie.
Julius Malema is in 2011 deur TLU SA en Afriforum van haatspraak aangekla en deur Regter Colin Lamont in die Gelykheidshof in Johannesburg skuldig bevind aan die aanklag. Verder is hy ook in November uit die Jeugliga geskors na die ANC se dissiplinêre verhoor aangaande sy openbare gedrag.
TNS Research Surveys het ook navorsing gedoen om president Jacob Zuma en adjunk-president Kgalema Motlanthe se gewildheid te bepaal.
Daarvolgens is 48% van stedelinge tevrede met die manier waarop Zuma sy werk doen en 47% is tevrede met Motlanthe.
Steun vir Zuma het geleidelik afgeneem sedert dit einde 2009 ’n hoogtepunt van 58% bereik het.
TNS Research Surveys beskou dié drie as die belangrikste politieke rolspelers in die land.
“Die goedkeuring van die president en adjunk-president in stedelike gebiede is baie soortgelyk, hoewel daar streekverskille is,” het Neil Higgs, innovasiehoof van TNS Research Surveys, gesê.
Sy appèlsaak
Julius Malema se regsverteenwoordiger, adv Patric Mtshaulana SC, het bevestig die betooghoofde in Malema se appèlsaak is Maandag ingedien.
In die betooghoofde voer Malema aan die jeuglede is nie die kans gegun om versagtende omstandighede aan die NTK voor te lê nie.
Hy beweer voorts dat Derek Hanekom, voorsitter van die komitee, asook Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne en komiteelid, nie objektief was nie.
Malema sal op 23 Januarie voor die party se nasionale appèlkomitee, onder leiding van Cyril Ramaphosa, verskyn.
Bron: Nuus24