Standard-Bank-sorg-vir-soet-sukses
Die suikerbedryf in Afrika kan ‘n lonende opsie vir internasionale beleggers wees. Dit is die mening van mnr Helmut Engelbrecht, hoof van Standard Bank se Beleggingsbank vir Afrika.
Hy sê die suikerbedryf in Afrika is besig om te groei danksy plaaslike vraag, uitvoermoontlikhede en gunstige EU-tariewe. Mnr Engelbrecht sê hulle ervaar groeiende belangstelling van beleggers regdeur die suiker-waardeketting.
Standard Bank het die afgelope jaar groot uitbreidingsprojekte in Swaziland, Mosambiek, Zambië and Nigerië gefinansier.
Hy meen dit is tyd dat beleggers bietjie wegkyk van minerale, olie en gas, na landbou. Hoewel daar onlangs ‘n daling in die suikerprys was, is dit steeds op aansienlik hoër vlak as in die tydperk tussen 2006 en 2008.
Navorsing het ook getoon dat ‘n land soos Nigerië wat feitlik al sy suiker invoer, die ideale klimaat en omstandighede het om self suiker te produseer.
Die Europese Unie se gunstige tariewe maak dit ook makliker vir ontwikkelende produsente om in die bedryf betrokke te raak.
Mnr Engelbrecht sê Standard Bank sal daarop bly konsentreer om projekte deur die hele waardeketting van suiker te finansier.