Staat help net gemeenskappe
Die regering het R800 miljoen bewillig om gemeenskappe te help wat deur die onlangse vloede geraak is, maar dit is nie duidelik hoeveel daarvan na boere sal gaan nie. President Jacob Zuma het in sy Staatsrede aangekondig dat die geld gebruik sal word om gemeenskappe te help en infrastruktuur te herstel.
Die departement van landbou het vroeër reeds te kenne gegee dat boere nie vergoed sal word vir skade aan gewasse nie, maar dit is nie bekend of boere wel sal kan aansoek doen vir die herstel van infrastruktuur op plase nie.
Volgens aanvanklike ramings het boere sowat R1 miljard se verlies aan landbouproduksie en ‘n bykomende R1 miljard skade aan landbou-infrastruktuur gely. Die bedrae kan nog styg soos die watervlak daal en die werklike omvang van die skade sigbaar raak.
Mnr Zuma het wel aangedui dat geld voortaan opsy gesit sal word vir die herstelwerk na rampe.
TLU SA het in sy reaksie gesê die klem wat mnr Zuma op werkskepping, ook in die landboubedryf gelê het, hou nie verband met die hulp aan rampgeteisterde boere nie. Mnr Ben Marais, TLU SA se president sê kommersiële landbou is die grootste werkverskaffer in die platteland, maar hierdie feit is geïgnoreer, “wat in die lig van die vloed- en reënskade rampspoedig kan wees.”
Hy sê: “Totdat die regering met verbeeldingryke en geloofwaardige hulp vir rampgeteisterde boere vorendag kom, veral in die huidige ekonomiese klimaat, sal landbou geen nuwe werksgeleenthede oplewer nie.” Ander probleme wat in die pad staan van die skep van werksgeleenthede is die klaarblyklike betrokkenheid van plaaswerkers by plaasaanvalle, die bedreiging van boere se eiendomsreg en die voorskriftelike arbeidswetgewing.
Mnr Zuma het baie klem geplaas op ontwikkeling in die platteland, maar hoofsaaklik met betrekking van bestaansboerdery. Die regering gaan glo die bestaanboere in die voormalige tuislandgebiede help met die rehabilitering van opgaardamme, windpompe, besproeiingsskemas en die oprigting van heinings.
Daar sal ook voortgegaan word om steun te gee aan begunstigdes van grondhervorming wat sukkel om kop bo water te hou.