Sorg vir goeie winterkos
Goeie kos in die winter sorg vir rande in die veeboer se sak in die somer. Maar wat
kan alles gebaal word en wat is die regte manier om dit te doen? ProAgri het die
hulp van ’n kundige ingeroep om 20 vrae oor hooimaak te antwoord. Hier is Rudi
Kuschke van Klein Karoo Saadbemarking se antwoorde:
- Watter gewasse kan alles gebruik word vir hooimaak?
’n Mens kan van enige gewas hooi maak mits dit vinnig gedroog kan word. Hoe vinniger die gewas gedroog kan word, hoe beter is die gehalte en kleur van die hooi. Dit is in elk geval ’n goeie gedagte om gras wat nie deur die winter bewei kan word nie, af te sny en te baal, sodat die voedingswaarde behou kan word. Dan verminder ons sommer die brandgevaar ook.
- Wat was fout met die outydse hooimiedens wat die boere gebruik het?
Daar is niks verkeerd met outydse hooimiedens nie. Die meganiese toerusting wat deesdae beskikbaar is, maak dit net makliker om bale te maak en te hanteer.
- Watter grassoorte is geskik vir hooimaak?
Kruipende groeiers, soos kikoejoe, maak moeiliker hooi.Breëblaargrasse maak moeiliker hooi as smaller blare, hoofsaaklik omdat dit langer neem om droog te word. Oulandsgras (smalblaar) se hooi droog vinniger as Smutsvinger (breëblaar).
- Wat kan nou in die laatsomer/ herfs geplant of gesaai word?
Meerjarige somerweidings soos oulandsgras, Smutsvingergras, Rhodes en witbuffel word in hierdie tyd gevestig. Eenjarige koelweergrasse soos rog en hawer is ook geskik. Meerjarige koelweergrasse is nie ideale hooimaakgrasse nie, want hulle is meesal kruipende groeiers.
- Droëland of besproeiing?
Enige van die hooigewasse kan onder besproeiing geplant word. Droëlandhooigewasse is onder meer tef, oulandsgras, Smutsvinger, Rhodes, en hawer.
- Hoe lank voor dit gesny kan word?
Sodra die hooigewas in die pypstadium is (uit vegetatief na reproduktiewe fase beweeg) by eenjarige gewasse. By meerjarige gewasse moet eerste snysel eers gesny word nadat dit goed volwassenheid bereik het om langlewendheid te waarborg. Die eerste snysel se gehalte sal swak wees.
- Hoeveel keer kan dit per seisoen gesny word?
Die aantal snysels per seisoen verskil afhangende van die reën. Vroeg reën beteken meer snysels. Volgens die praktyk is daar gewoonlik twee tot drie snysels.
- Watter bemesting is nodig?
Niks kan produseer van niks nie. Sonder aanvulling sal weiding agteruitgaan. Bemes NPK – P en K eenmalig vroeg in seisoen. N – 40% vroeg in seisoen en dan twee opvolge van 30% elk. Die pH moet ook bestuur word – bekalking moet nie agterweë gelaat word nie.
- Watter insek- en onkruidbeheer is nodig?
Onkruid is alleen ’n probleem wanneer weiding-/hooigewasse se grondbedekking nie meer lekker is nie. Onkruid kom in, want die natuur soek nie skoon grond nie.
- Watter toerusting het jy nodig?
Snymasjien, windryhark, kneuser/ snyerkneuser, hooilugter, baler (rond of kasbaaltjies), kunsmistrooier, sleepwa en baallaaier.
- Hoe hoog moet die gras afgesny word?
Gras/Weiding moet nie korter as 100mm bo die grond afgesny word nie. Waar te kort (korter as 100mm) is hergroei stadig en reserwes word uitgeput, grondbedekking kom in die gedrang. - Hoe groen/ryp moet die gras wees voor dit gesny word?
Gras/weiding word gesny/gehooi wanneer in die pyp kom; net wanneer dit begin blom (oorgaan van vegetatiewe stadium na reproduktiewe stadium).
- Moet dit dadelik gehark en gebaal word?
Hark vind plaas sowat vier uur na dit gesny is, sodat dit goed sondroog kan word en dit word gebaal wanneer die vogpersentasie 13% – 15% is.
- Is dit nodig dat dit eers in windrye gehark word?
Droging is vinniger en meer egalig in windrye. Windrye vergemaklik die baalaksie omdat die baler dan die materiaal makliker en vollediger kan optel.
- Hoeveel ton droëmateriaal per hektaar kan ’n boer verwag?
Dit hang af van heelwat faktore, onder meer die tipe gewas, besproeiing, reënval, seisoen, ensovoorts. In die praktyk word daar in die Hoëveld op droëland van oulandsgras so ses tot nege ton hooi per hektaar gemaak, afhangend van die bemesting.
- Moet bale droog gehou word?
Ja, anders muf dit.
- Hoekom is daar ronde en vierkantige bale – wat is die voordele van elkeen?
Vir eie voorkeur en hantering.
• Ronde: Vinniger baalaksie, kan buite geberg word (redelik waterdig).
• Vierkantig: Nie werktuig nodig om op te tel nie – weeg 18 – 25 kg. Kan in skuur gestapel word. Makliker om te hanteer.
- Hoe verander die voedingswaarde van bale as hulle ouer word?
Die smaaklikheid neem af met ouderdom en die voedingswaarde daal ook met ouderdom. Kuilvoer het ’n langer rakleeftyd, mits dit altyd afgeseël bly (anaerobies).
- Kan daar waarde toegevoeg word aan grasbale deur byvoorbeeld gisting (soos in die geval van kuilvoer)?
Deur bale dig met plastiek toe te draai of graskuilvoer te maak, kan die gehalte bewaar word. Kuilvoer het ’n hoër voedingswaarde as hooi. Dit is egter moeilik vervoerbaar.
- Is die koste van toegedraaide bale teenoor gebinde bale die moeite werd?
Hierdie is ’n moeilike vraag om te beantwoord – die boer se eie omstandighede en behoeftes sal die bepalende faktor wees. As bale lank gebêre gaan word, bly meer voedingswaarde en smaaklikheid behoue hoe digter dit toegemaak word. Wees net versigtig dat die plastiek nie beskadig word nie.