Categories: NewsPublished On: 8th June 2011

So spaar ons energie

By 4 min read
748 words
Na die afgelope paar jaar se wipplankry in die beurtkrag-pretpark, is wenke vir kragbesparing of alternatiewe kragopwekking deesdae volop. Daar is dié waarvan ons almal weet (en nee, om bloot ‘n kragopwekker te installeer is nie die oplossing nie. Dis hard op die sak en harder op die ore…) en dan is daar die meer tegniese, dalk duurder, moontlik langertermynoplossings.
 
Waterverwarmers afskakel op sekere tye van die dag, hulle isoleer met ’n waterverwarmerkombers, uitprop van selfoonlaaiers en ander elektriese toebehore wat bystandkrag verbruik, afskakel van ligte wat onnodig brand, ’n tydskakelaar op die swembadpomp – dis goed om hieraan herinner te word, maar as ons werklik ’n verskil aan kragverbruik wil begin maak, sal ons dieper moet kyk, fyner moet beplan en beter ingeligte keuses moet maak.
 
Ons kom uit ’n era waar elektrisiteit volop en goedkoop was – ’n stand van sake wat deesdae drasties verander het.Of jy Eskom-krag of alternatiewe krag gaan gebruik, spaar gaan jy moet spaar.
 
Alternatiewe krag is ’n duur opsie en daarom is dit belangrik om die omskakeling daarna reg te benader. ’n Kopskuif is nodig. Die natuur bied onbeperkte bronne soos sonlig en wind, maar dit verg geld van jou kant af om dié bronne in te span – en wie van ons het onbeperkte toegang daartoe?
 
Dit is dus van uiterste belang om energiedoeltreffende toestelle te gebruik en besparing ’n lewenswyse te maak. Maar moenie probeer spaar deur minderwaardige produkte aan te koop nie. Dit kan later ’n geval van “goedkoop koop is duur koop” word.
 
Vir die wat op Eskom se krag moet reken, is daar verskeie produkte wat krag bespaar deur òf die inspanning van ’n alternatiewe kragbron (soos ’n sonstoof/-oond) òf die meer doeltreffende verbruik van elektrisiteit. 
 
Induksiestowe is ’n goeie voorbeeld van laasgenoemde. ’n Induksiestoof gebruik die helfte soveel krag as ’n gewone stoof en kook water twee keer gouer as enige elektriese ketel. Pasop, dit beteken ook dat jou kos twee keer so gou gaan aanbrand!
 
Nog ’n baie bevredigende kragbespaarder is die hooikis-kookmetode soos ons voorouers lank gelede gebruik het.
 
’n Hooikis word gemaak met enige groot houer (’n koelhouer werk besonder goed) en ’n slaapsak of kombers. Bring jou kos tot kookpunt op die stoof, draai die kastrol ordentlik toe in die slaapsak, sit die spulletjie in die koelhouer en maak toe. Teen vanaand het jy ’n gaar maaltyd. ’n Kooksak is ’n hooikis gemaak van materiaal, opgestop met polistireenballetjies.
 
LUD-ligte (liguitstraaldiode) is waarskynlik een van die mees kostedoeltreffende, kragbesparende produkte op die mark. Jy kan jaarliks honderde rande se elektrisiteit bespaar.
 
Vir kleinhoewe- en plaasbewoners is daar waterpompe wat met sonkrag werk.
 
Daar is steeds twee hoofmaniere waarop sonkrag ingespan word. Die een manier is om die lig en warmte regstreeks te gebruik, soos in sonkrag-oondjies of sonwaterverwarmers. Die ander is om sonlig in elektrisiteit om te skakel.
 
Spesiale toestelle, genaamd sonselle of fotovoltaïese selle, vang sonstrale op en verander hulle regstreeks in elektrisiteit. 
 
Sonselle word reeds grootskaals aangewend om energie te verskaf aan satelliete wat om die aarde wentel. Danksy sonselle het ons dus onder meer satelliet-TV en betroubare weervoorspellings.
 
Fotovoltaïese selle (FV-selle) bring tans ook krag na huise in dele van Afrika en Suid-Amerika waar daar geen kragnetwerk vir beligting, yskaste, waterpompe en kommunikasietoestelle is nie.
 
Fotovoltaïese opwekking is waarskynlik die beste pad vir die toekoms, maar ongelukkig het dit tans nog veral twee nadele. Die een probleem is dat die son nie altyd skyn soos hy “moet” nie en die ander is dat die toerusting tans nog baie duur is. Hoewel die koste onder meer danksy verskerpte bewusmaking reeds baie gedaal het, is fotovoltaïese kragopwekking steeds duur om aan te bring, maar mettertyd kan dit baie goedkoper word.
 
Die groot Amerikaanse uitvinder, Thomas Edison (1847-1931), het vroeg reeds voorspel: “Nie slegs sal atoomkrag beskikbaar gestel word nie, maar eendag sal ons die styging en daling van die getye inspan en die strale van die son inkerker.”
 
Moenie die Kragdag op 2 Julie by Diamantvallei naby Pretoria misloop nie. Dit hou dalk net vir jou die sleutel tot krag- en geldbesparing. Praat met Alida Verwoerd by 012-736-2154 vir meer inligting.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0