Categories: NewsPublished On: 9th July 2010

Slim rooster ontsluit proteïeneskatkis in soja­

By 3 min read
639 words

’n Ryk skat van voe­dingswaarde lê in elke sojapit: 40% proteïene en 20% olie.  Dit is ’n uitstekende bron van onversadigde vette en is ryk aan aminosure.

Maar ongelukkig is rou sojabone giftig vir diere. ’n Dier se pankreas skei ’n ensiem, tripsien, af wat help om proteïene te verteer. Rou sojabone bevat ’n tripsienonderdrukker wat die afbreekbaarheid van proteïene in die grootpens sodanig onderdruk dat die dier ongeveer 28% daarvan nie kan benut nie.

Hierdie tripsienonderdrukker benadeel veral aptyt en groei en veroorsaak ’n vergroting van die pankreas by enkelmaagdiere, soos varke en pluimvee. As die inname van rou sojabone beperk word, is dié probleem nie so groot by herkouers nie.

Rou sojabone bevat ook ’n ensiem wat, wanneer dit saam met ureum gevoer word, die ureum afbreek. Dit kan tot ammoniakvergifti­ging lei.

Die oplossing

Maar al hierdie nadele en gevare is iets van die verlede wanneer jy sojabone bak voordat jy dit by jou voerrantsoen voeg, sê mnr Neels Bezuidenhout, ’n landbou-ingenieur van Eskom in Bloemfontein.

Gedurende die bakproses word die tripsienonderdrukker in rou sojabone tot ’n veilige vlak van 2 milligram per gram verlaag.

Ook die ensiem wat tot ammoniakvergiftiging kan lei, word onskadelik gemaak.

Terselfdertyd bly die uitstekende aminosuur-balans (sistien en lisnien) wat die proteïengehalte bepaal, behoue.

Tydens die bakproses word die lipase-ensiem, wat vet in sojabone afbreek, ook vernietig. Geen bykomende vette hoef dus by rantsoene gevoeg te word nie.

Die metaboliese energie in rou sojabone word tydens die bakproses meer as verdubbel en verbyvloei-proteïene word met ongeveer 14% verhoog.

Die bakproses verbeter ook die verteerbaarheid sodat ’n gunstiger voeromset en vinniger gewigstoename behaal word.

Boonop smaak gaar sojabone baie lekkerder, wat die inname van voermengsels waarby geroosterde sojabone ingesluit is bevorder, sê mnr Bezuidenhout.

Verdere voordele sluit in dat gebakte sojabone makliker maal en dat die produk lan­ger opgeberg kan word omdat dit nie, soos rou sojabone, geneig is om gou galsterig raak nie. Die natuur­like vesel in geroosterde sojabone word behou as die saad heel gehou of net grof gebreek word.

Dit alles beteken dat al die voordele van soja nou veilig benutbaar vir die veeboer gemaak kan word deur ’n roosterproses. Dit is baie goeie nuus, veral omdat proteïene een van die duurste bestanddele in ’n voerrantsoen is.

Omdat sojabone so ’n hoë vlak van energie en proteïene het, sluit boere graag ongeveer 15% gebakte sojabone by voerrantsoene in. Dit geld veral vir voer vir pluimvee, varke, melkbeeste, kalwers en die afronding van lammers.

Die rooster

Dis om hierdie voordele van soja vir die boer beskikbaar te stel dat die Bloemfonteinse onderneming, Roast-Tech, saam met Eskom ’n sojaboonrooster ontwikkel het.

Die sojaboonrooster ontsluit die potensiaal van sojabone as ’n veilige en proteïenryke voedingsbron vir insluiting by voerrantsoene.

Hierdie tegnologiese deurbraak kan ook vir doeltreffende en ekonomiese waardetoevoeging by verskeie ander landbouprodukte gebruik word, onder meer:

  • Om mielies vooraf gaar te maak. Dit bevorder die gelatinisering van stysel, wat dit meer verteerbaar vir diere maak.
  • Om grondbone te blansjeer en te bak.
  • Om koffiebone, sigorei en neute te rooster.
  • Om verskeie ander sade, soos dié van sonneblom en katoen, te verhit sodat dit doeltreffender gepers kan word. Jy kan selfs pampoenpitte bak.
  • Om sade te steriliseer.

Die roosterproses van die toestel vind aaneenlopend plaas en elektriese elemente sorg vir die verhitting.

Die werkstemperatuur word baie vinnig bereik en ’n egalige deurset word gehandhaaf om ’n doeltreffende rooster- of bakproses te verseker.

Omdat daar geen opwar­­­m­ings­tyd is nie, is die proses maklik met die toepassing van beurtkrag versoenbaar, sê mnr Bezuidenhout.
 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0